Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.8.12

Gewilde fotoverhale nou gesogte Africana

Die eens gewilde fotoverhaalboekies, wat in die 1960's as SuidAfrika se antwoord op televisie beskou is, het vandag gesogte versamelstukke geword. Dit word selfs as Africana beskou deur 'n gesaghebbende instansie soos die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika. Dié boekies was een van die fondamente van Republikeinse Pers, wat mettertyd deel van die eertydse Perskor-mediaryk geword het. Na aanleiding van ‘n referaat op die Bibliophilia Africana 8-kongres ‘n paar jaar gelede in Kaapstad het AMANDA BOTHA, eertydse Kaapse verteenwoordiger van Die Transvaler, soos volg in Die Burger geskryf.

DIE ontstaansgeskiedenis van dié tydskriffies, wat byna drie dekades lank die lesersmark in Afrikaans, Engels en verskeie swart tale oorheers het, vertel waarom karakters soos Mark Condor, die Ruiter in Swart, Tessa en suster Louise landwyd bekend geword het. Hierdie fotostories het tot 'n massamark gespreek en sommige soos Mark Condor het 23 jaar aangehou.

Foto gemanipuleer
In haar aanbieding het me. Lianda Martin van die erfenisdepartement van die Nasionale Biblioteek van SA gesê die besluit in Maart 1964 van die destydse minister van pos- en telegraafwese, dr. Albert Hertzog, dat die regering nie televisie gaan instel nie, het nie net geboorte aan die fotoboekies gegee nie, maar 'n onversadigbare mark daarvoor geskep.

Die man wat die geleentheid vir die fotoboekmark in Suid-Afrika geskep het, was 'n Vrystaatse boer en oudkoerantman, Hint Hyman. Hy is in 1912 op Machadodorp gebore en was ná sy matriek verslaggewer by die eertydse Die Vaderland en is later as nuusredakteur van Die Brandwag aangestel. In die 1950's het hy Keur Uitgewers gestig en van sy plaas, Onverwacht, in die Luckhoff-distrik bedryf. (Hy is in Julie 1998 oorlede en in 'n opskrif in Die Volksblad is na hom verwys as "Die vader van die fotoverhaal".)

Hyman het ook self as skrywer van gewilde Afrikaanse romans ontpop. Hy en 'n medeskrywer, Sep Smidt, het die eerste fotoboekstories geskryf en aan die mark voorgestel. Die twee tydskrifte Kyk en sy Engelse ekwiwalent See is vandag nog in die mark. Hyman was ook die uitgewer van onder meer die tydskrifte Keur, Ster, Scope en Rooi Rose.

In die 1960's het hy na Durban verhuis en Republikeinse Pers (RP) gestig. Benewens die reeks fotoboekstories het RP 29 tydskriftitels gehad en teen 1979 het hy 61% van Suid-Afrika se advertensiebegroting getrek. Een van sy tydskrifte, Bona , is in verskeie tale gepubliseer en het die grootste tydskrifsirkulasie op sy dag gehad. Die fotoboekies se suksesverkope teen 1970 is as ongekend in die uitgewersbedryf bestempel. Daar kon skaars voorgebly word met die skryf en vervaardiging van die boekies. Sommige skrywers het ingetrek in woonwaens, wat permanent in die Hymans se tuin gestaan het, om maande lank ononderbroke aandag aan die skryf van die stories te gee.

Onder die produktiefste skrywers tel Andreas du Plessis, Lucas van Vuuren en Gerrit van Zyl, wat ook onder die skuilnaam Gerrie Radlof en Dirk Lubbe geskryf het. Hulle het tussenin ook romans vir die ontspanningsmark geskryf. Van Zyl was die skrywer van die romanreeks Die Buiter

IN die fotoboekreeks is 'n magdom titels geproduseer waarvan baie bekend geword het. Die grootste gros is deur RP onder die wakende oog van Hyman geproduseer. Onder die bekendste titels tel Ruiter in Swart, Die Grensvegter, Tessa, Die Saboteur, Mark Condor en Suster Louise.

Die tipiese formaat was 'n sagtebladomslagboekie van tussen 80 en 100 bladsye wat in die middel vasgekram was. Die voor- en agterblad was gewoonlik in kleur, terwyl die binne bladsye wit koerantpapier en die foto's swart-wit was. Elke reeks het 'n hoofkarakter met 'n klompie ondersteunende karakters gehad en elke boekie was 'n volledige aflewering onder sy eie titel. Die storie is deur 'n reeks foto's vertel met die narratief wat onder of bo die foto aangebring is. Die dialoog en subteks is in spraakborrels aangebring. Elke boekie is in die reeks genommer, maar ongedateerd. Die Grensvegter is in Oktober 1972 begin met Andreas du Plessis as skrywer. Aanvanklik was die held Dan Pienaar en later die legendariese Rocco de Wet. Die reeks het jare lank voortgegaan. De Wet was 'n majoor in die SA Weermag en is altyd op gevaarlike sendings buite die grense van die land gestuur-- en hy het natuurlik altyd as oorwinnaar en held uit die stryd getree.

Die vyande was altyd terroriste van òf Kubaanse òf Russiese oorsprong, kompleet met kindervegters. In haar aanbod plaas Martin dit in die raam van die destydse Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die voorafgaande dekade is gekenmerk deur sy "drakoniese en paranoïese wetgewing teen Kommunisme en terrorisme". Mark Condor, die fotoboekheld, was 'n man in 'n ander klas. Hy was 'n miljoenêr-nyweraar met sjarme en styl. Die aanvraag was so groot dat drie fotoboeke per maand geproduseer is en dat 23 jaar onafgebroke daarmee volgehou is. Die gemiddelde verkoopsyfer was 180 000 eksemplare.

'n Sterk mededinger was die hospitaalreeks met die titel Suster Louise . Sy was in beheer van die Lyndaleverpleeginrigting en die stories het om pasiënte en personeellede se lewenskrisisse gewentel. Suster Louise was altyd die heldin, maar darem nie altyd die oorwinnaar nie. Sy is soms deur 'n ongeneeslike siekte of seldsame siektetoestand geklop.

Die swart leserspubliek was ook 'n sterk ondersteuner van fotoboekies. Die gewilde She in die reeks True Africa het van 1964 tot die laat 1970's gereeld verskyn. Dit is deur Legion Publications uitgegee en die hoofkarakter, She, is deur die sangeres en aktrise Linda Mhlongo vertolk. Dié karakter was 'n vegter teen misdaad en is in haar stryd ondersteun deur die bose, die dood en die bonatuurlike. Sy het ook die voordeel gehad van die gebruik van 'n "knife of many powers". Die "mes" het verbale opdragte van She uitgevoer en kon haar dikwels teen skuilende gevare waarsku. Volgens Terry Heywood, een van die fotograwe wat aan She verbonde was, was die fotoboekies nie net populêr nie, maar is dit beskou as die "urban underground's bibles".

Die fotoboekies -- in Afrikaans, Engels en 'n aantal swart tale -- was drie dekades lank 'n intrinsieke deel van baie mense se lewe. Vir baie was dit hul enigste lee sstof. Terselfdertyd was die fotoboekies ook noodsaaklike inkomste vir baie akteurs, modelle en arm studente. Die gemiddelde loon per dag was R40, wat ná belastingaftrekking net R30 was. Gewoonlik moes die spelers hul eie kostuums verskaf -- vir die vroue meestal verskeie verkledings in bikini's, vier paar belaglike hoëhakskoene en dikwels ook 'n aandrok. Die meeste fotoboeke is binne 'n dag gefotografeer en dikwels het die dag reeds om 03:30 begin. Op grond waarvan kan dit Africana genoem word wat as deel van die land se erfenis bewaar moet word?

Volgens Martin staan die fotoboek binne die kader van materiaal wat wys hoe en waarom Suid-Afrikaners in 'n gegewe tydperk geleef het.

Onder die akademici wat aan Suid-Afrikaanse pulpfiksie aandag geskenk het, tel Laura Twiggs. Volgens haar is die tydperk waarin hulle ontstaan het, vir baie 'n tydperk van ekstreme angs en politieke onderdrukking. In dié boekies word 'n "utopia gekonstrueer" wat gegrond was op die beginsels van die NP-regering. As "popkultuur" is dit ook eie aan Suid-Afrika wat "tussen rolprent en die roman" beweeg.
  
Die fotoboek is in 1975 deur die televisie vervang. Hierna het dit begin kwyn.

'n Ander argument waarom die fotoboek vir die toekoms bewaar moet word, is, volgens Martin, dat hierdie unieke genre deur latere kritiese analise deel vorm van die studie wat "begrip en vergifnis" sal bring van waar ons vandaan kom.

(Met erkenning aan Lianda Martin se referaat "The Picturestory as Africana" , aangebied op die Bibliophilia Africana 8 - kongres in Kaapstad. Martin het gehelp met agtergrondinligting.)