Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.11.12

Die ontmoeting

PAUL KRUGER skryf: So met mens se tienerjare verval jy in die kalwerliefde en later die groter droomliefde. Gedurende my jongtyd in die vroeë sestigerjare was die meisies verlief op Elvis en James Dean en Pat Boone, en die jong manne het met leep oë van MM en BB gedroom, dis nou Marilyn Monroe en Brigitte Bardot.

Met my was dit egter anders, my droomliefde was poësie, in besonder
die digwerk van Ingrid Jonker – én later ook Ingrid Jonker self. Smoorverlief op iemand wat ek nog nooit eens met ‘n oog gesien het nie, nie eens ‘n foto nie.

Ingrid Jonker
Dis hoe hierdie iewat vreemde romanse so min of meer ontvou het.

Daardie jare na skool het ek by die destydse Afrikaanse Pers-Boekhandel (APB) as ‘n versendingsklerk gewerk. Wou eintlik 'n verslaggewer by die middagkoerant, Die Vaderland, word, maar so pas uit die skool het ek vir hulle nog te min van die lewe agter my gehad, toe is dit tweede beste. Later jare het hierdie koerantmandroom toe tog waarheid geword. Die werk by die boekhandel as sodanig was nou nie juis opwindend nie, maar om so tussen die boeke te wees, was meer as bevredigend. So het ons as werknemers ook baie van die groot geeste in die wêreld van die letterkunde te siene gekry wanneer hulle die uitgewer kom besoek het.

Bartho Smit
Chris Barnard
Wyle Bartho Smit, bekende dramaturg en skrywer, was die uitgewershoof, met ewe bekende dramaturg en skrywer, Chris Barnard, as sy adjunk. Altwee was aktiewe deelnemers in die Sestigerbeweging en skrywers soos Andre P. Brink, Breyten, Abraham de Vries, Jan Rabie en vele ander het ons gereeld in die gange raakgeloop. Hierdie Sestigers was ons helde en ons het aan hulle woorde gehang, en hulle woorde het binne in ons gehang.


Op ‘n dag daar in die middel van ‘63, meen ek, kom Bartho by my met ‘n drukstuk en vra ek moet dit gou na die proeflesers toe neem. Terwyl ek so aanstap, sien ek die dokument is die finale proewe van ‘n digbundel, Rook en Oker, deur Ingrid Jonker. So met die stap begin ek lees aan een van die gedigte, Bitterbessie dagbreek, en net daar omvou die woorde uit haar binnekant en verstrengel my hele hart en verstand - en ontdek ek my droomlief. Eers veel later ‘n foto van haar gesien, maar hoe sy gelyk het, het vir my droom nie saak gemaak nie. Toevallig was sy nogal ‘n aanvallige, oulike meisie!

Rook en Oker


Toe die bundel die dag verskyn, het ek die eerste een wat uitgepak is, geneem en by die kassiere gaan betaal. Hierdie boek het ek gelees en gelees en weer gelees, totdat ek elke woord en nuanse daarvan geken het. Die feit dat daar ander manne in Ingrid se lewe was, het vir my droom niks saak gemaak nie. Daar binnekant was sy en haar gedigte myne, en myne alleen.

Toe in Februarie 1964 gebeur daar ‘n groot ding. Ingrid Jonker wen die APB-prys vir Letterkunde (daarmee saam ‘n hele R2 000!). Dis sommer ‘n yslike storie en ek is baie bly vir my droomlief. Toe het ek al vir haar ‘n paar gedigte geskryf, maar hulle was ‘n groot geheimenis en net mooi niemand het daarvan geweet nie. Hierdie gedigte het ek geskryf lank voor die treursang van Drieankerbaai se meeue:


Laasnag was ek binne
In jou droom
Het ek jou hart aan myne
Vasgesoom

Weet jy daarvan, van
Hierdie boog tussen
Jou en my gespan?

En dan die volgende een wat ek nogal graag vir haar sou wou gegee het, want my beskeie poging tot die digkuns was grootliks ‘n weerklank van Ingrid s’n, en natuurlik Uys Krige wat ook haar mentor was.

HARTBLOMMETJIE

Vir Ingrid
Sonblommetjie
my eie hart se
tromdrommetjie

Kolletjie son vir my voete
Kolletjie son vir my hart

Sonblommetjie
kom lê hier in my
bakhandkommetjie

Kolletjie son vir my voete
Kolletjie son vir my hart
Kolletjie verlange kolletjie son

Sonblommetjie
deel van my lyf se
oudagkrommetjie

Kolletjie son vir my voete
Kolletjie son vir my hart
Kolletjie verlange kolletjie son
Kolletjie son van my hart

NP van Wyk Louw
Wat ek egter nooit verwag het nie, was dat Ingrid sommer so niks- vermoedend binne-in my droom sou inloop nie. Sommer net so. Stap ek die middag in die gang af, dit was nogal ‘n baie lang gang, en daar ver voor sien ek ‘n bekende figuur aankom wat ek dadelik as prof NP van Wyk Louw herken, en ‘n dame saam met hom. Toe ons nader aan mekaar kom, begin my hart rondspring, want die dame is Ingrid Jonker! My eie droomlief hier by my in die gang! Kom ons bymekaar so by my kantoordeur en ek groet die prof wat ek al tevore ontmoet het. Vra hy hoe dit met my gaan en of ek vir Ingrid ken. ‘n Ongelooflike droogte het plotseling in my mond opgedam en ek het met moeite kon sê: “Nee nog nie”.

Sy steek haar hand na my toe uit. My kop duisel toe ek dit neem en ‘n rasperende “aangenaam” kon uitkry. Red die prof my en sê hulle is op pad na Bartho toe oor die prys. Herwin ek myself en sê darem vir haar geluk. Vra ek of hulle nie vir ‘n oomblik sal vasstaan nie, spring ek by die kantoor in om my Rook en Oker te kry sodat sy dit kon teken. Sy klink nogal verbaas en sy vra of ek dit al gelees het. Stamelend, kopknikkend kry ek darem ‘n “ja” uit vir my droomlief en toe nog ‘n “ja”, maar my tong struikel so dat ek nie kan vertel dat haar gedigte my hele wese vol is nie. Sy kyk my met daardie groot bruin, soekende oë aan en ek kan hoor hulle praat met my, hulle sê nou weet ek wie se spore ek daar binne-in my droom gekry het! ‘n Wonderlike, asemlose oomblik saam met my droomlief en vir ‘n oomblik beweeg niks nie, en druk ek haar beeld in my gedagte vas, haar hare krulkorterig om haar gesig en die oë geraam.

Ontmoeting in die gang

Sien ek jou
Sien ek jou

As ek my oë
Oopmaak
Sien ek jou

As ek my oë
Toemaak
Sien ek jou

Sien ek jou
Sien ek jou
Soekende oë

Toe sê sy iets wat ek nie mooi kon hoor nie…dis so jammer, want dit was belangrik, ek weet dit was belangrik! Al wat ek onthou, is die vriendelike stem, haar sagte hand en haar oë, veral die groot bruin oë. Baie jare later lees ek iewers dat prof NP haar ook daardie dag die eerste keer ontmoet het. Om te dink, daar staan ek, ‘n niksbeduidende boekhandelklerk wat aan droomliefde glo, saam met twee van die grootste digters wat die Afrikaanse letterkunde nog opgelewer het.

Toe ek met lam knieë in die kantoor gaan sit, skryf ek vir haar die eerste twee reëls van ‘n gedig wat later na haar dood ‘n anderster draai gekry het, anderster uitgeloop het:

Vir Ingrid

die groot bang oë klewe aan my vas
skuil in die bruin ‘n diepseer binnelas

wat die woorde met haar lippe omvorm
wil vertel van ‘n verworpe hart se storm

van ‘n sonlose bitterbessiedag se breek,
en ‘n donkerman wat hom kom wreek

in die die koue water van drieankerbaai
sy ankerloos in seewierblare toegedraai

Die nuus van Ingrid se ontmoeting met die niks* het my hele wese toegekring en dit was seer, baie seer, want die wete het in my opgestaan dat die oudagkrommetjie sonder haar sal wees, 'n stilte in doodloopsraat.

Tog was daar by my steeds die skamelhoop vir haar nagedagtenis:

Die einde se begin

In die groot finalé
het die leë niks
tot volheid uitgedy

maar kon nie oorwin

BOODSKAP

Toe die laaste golwe
deur haar spoel

Kon sy iewers anderkant
‘n polsslag voel

Toe mettertyd het ek van my droomlief losgeraak, so stilweg… Want die lewe was nog jonk en sy net maar ‘n gister se mooie herinnering.

* Lees Ingrid Jonker se gedig: Korreltjie korreltjie sand, en veral die laaste twee verse.

Korreltjie sand

Korreltjie korreltjie sand
klippie gerol in my hand
klippie gesteek in my sak
word korreltjie klein en plat

Sonnetjie groot in die blou
ek maak net 'n ogie van jou
blink in my korreltjie klippie
dit is genoeg vir die rukkie
Kindjie wat skreeu uit die skoot
niks in die wêreld is groot
stilletjies lag nou en praat
stilte in Doodloopstraat

Wêreldjie rond en aardblou
korreltjie maak ek van jou
huisie met deur en twee skrefies
tuintjie met blou madeliefies

Pyltjie geveer in verskiet
liefde verklein in die niet
Timmerman bou aan 'n kis
Ek maak my gereed vir die Niks

Korreltjie klein is my woord
korreltjie niks is my dood