Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.11.12

Gehate subs ’n beginner se nagmerrie


GERT VAN ROOYEN skryf: Na aanleiding van Stella Niemand en Maarten Roos se brokkies oor subs en die taal wat geskryf word, net die volgende.

Vir enige beginner-verslaggewer by Perskor-koerante in Johannesburg of Pretoria was ʼn sub ʼn “gehate spesie”. Toe ek by Die Transvaler begin werk het, het die name Peet Smit, Fanie Hattingh, Frikkie van der Walt, Mike
van Niekerk, Peet Simonis en later Ian Smith, Frans Scheepers en Piet Ebersöhn wraakgedagtes in jong verslaggewers se gemoed opgewek!

Die uwe het dit ook deurgemaak. Ek was so drie, vier dae by Die Transvaler toe Willie Buys my saam met fotograaf Gert Hattingh op ʼn storie stuur – ʼn vragmotor wat deur ʼn tuinmuur in Linden gebars het. Terug by die kantoor vat Gert pad donkerkamer toe en Willie sê ek moet net ʼn kort onderskrif vir die foto skryf.

Vol verwagtinge gaan sit ek voor my Olympia, vat twee A5 velletjies papier en koolpapier, rol dit in die tikmasjien in en begin skryf in die keurigste taal denkbaar, want sien ek is mos pas klaar met universiteit en ʼn joernalistiekgraad agter my naam!

Klaar getik, vat ek die twee velletjies na Willie toe, hy kyk daarna, kyk na my en sê ek moet dit na Fanie toe neem. Nouja, ek het daardie onderskrif van net vier reëls nog DRIE keer gaan oorskryf!

Toe ek later self subwerk gedoen het, het ek ervaar hoe dit moet voel om ander mense se kopie te sub en het vir Fanie en kie net groot bewondering gekry.

En net om so ‘n bietjie sout in die wonde te vryf, meegaande is ‘n spotprent vir al die subs daarbuite!