Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.1.13

Dokter oorsee kyk na my spiere

RIKA VAN GRAAN, eertydse knap rolstoel-misdaadverslaggewer van Die Transvaler, het Maandag in K’rant vertel hoe dit met haar gaan. Klik HIER om dit te lees. In Maart 1973 het sy in Perskorhaan vertel van haar ervarings in Engeland, nadat sy op Perskor se onkoste daarheen is sodat van die beste neuroloë kon vas te stel wat die oorsaak van haar gestremdheid is.

Sy skryf: Ja, hulle vra my om 'n storie te skryf oor my en Perskor. Wat sal 'n mens nou kan skryf daaroor, want wat Perskor vir my gedoen het, is te groot om in woorde uit te druk … daarom kan ek net sê ek was nog nooit spyt dat ek drie jaar gelede by Die Transvaler begin werk het nie.

Dit was joernalistieke ondervinding wat net soos vir so vele jonges met vele slaggate begin het, maar die redaksielede het dit soveel makliker gemaak.

Dié foto van Rika van Graan het
destyds by dié storie verskyn.
Die slaggate was in my geval weens gesondheidsredes seker net dieper as vir die gewone beginner, omdat ek nie self daar kon kom nie, maar met hulp van die mense wat daagliks om my werk en leef; en altyd was en is daar nog iemand wat help. Hier is dit nie net die redaksielede nie, maar veral ook die sekuriteitsbeamptes wat my elke dag en aand van my motor na die kantoor en weer terug begelei het.

Maar om by Perskor tot stilstand te kom, het my paadjies ver gaan draai.

My gesondheidsprobleme het lank terug reeds begin, maar mettertyd het dit erger geword sodat ek nie onafhanklik kan rondgaan nie.

Dis nou 13 jaar gelede dat 'n Pretoriase geneesheer bepaal het dat daar iets groots met my spiere verkeerd is. In daardie stadium was ek 'n alteet en het nog dieselfde jaar aan die tussenskoolse atletiekbyeenkoms vir my skool deelgeneem. Die ongewone hardheid van die kuitspiere het my nie veel gehinder nie. Ek het net gedink dis gespierdheid, maar min het ek of my ouers ooit gedink wat die uiteinde daarvan sou wees.

Eers die Juliemaand sou ons sien wat die beloop van die aggressiewe spiermoeilikheld is. Elke dag neem dit net iets weg sonder om iets in die plek daarvan terug te gee; elke keer moet ek net leer om sonder daardie deeltjie funksionaliteit klaar te kom. Dit het aanvanklik swaar gegaan om aan te pas, maar die spreekwoord sê: aanhouer wen.

SKAAM

Ná skool was ek nog te skaam vir myself, ‘n gewese aktiewe en lewenslustige mens, om nou as ‘n gestremde universitet toe te gaan. Dit wat ander jong mense daardie tyd sou gesê het, sou die seer groter gemaak het. Daarom het ek vier jaar lank in Pretoria gaan werk.

Potchefstroomse Universiteit
Kollegas daar het my oor die gevoel van "skaamte" gehelp en toe het ek besluit om joernalistiek aan die Potchefstroomse Universiteit te bestudeer. Maar in daardie stadium het ek nog nie aan die praktyk gedink nie. Nee, ek sou maar net studeer om van my toestand te vergeet en darem iets in die lewe te bereik.

Dit was eers in my finale jaar dat ek vir 'n onderhoud na die SAUK gekom het en sommer ook 'n draai by al die Johannesburgse dagblaaie gemaak het

Carl Nöffke
My onderhoud by Die Transvaler was met mnr. Carl Nöffke, hoofredakteur. Deur sy houding kon ek aflei dat hier vir my tyd en plek sou wees. En daardie eerste indruk is nog blywend.

Dit is verlede jaar bewys toe Perskor besluit het om my vir mediese behandeling na die beste neurologiese sentrum in Engeland te stuur.

SOOS 'N BRUID

Maar daarby het dit nie net gebly nie. My spesialis kon saam met my gaan. Aanvanklik kon ek nie glo dat dit met my kon gebeur nie, maar dis wat Perskor vir my doen.

Ons is verlede jaar op die aand van 23 September op die makrostraler, Drakensberg, hier weg. Maar dit was 'n gevoel wat seker net 'n bruid op haar troudag sal kan beleef: sekerheid en onsekerheid.

In Engeland het ons Sondagoggend om 10:15 neergestryk en daarvandaan moes ons in ‘n tipiese Londense taxi na die immergewilde King’s Cross-stasie. Daar moes ons die pad met ‘n kompas uitwerk met al die ronde strate en dwars strate om rigting te kry en te hou.

Eerste was die probleem van portiere. Daar’s nie sulke goed nie. Die senior spesialis van Suid-Afrika moes maar die tasse dra en my op die rolstoel stoot. Ek het hom so jammer gekry. Toe ons eers op die trein is, het alles goed verloop. As medepassasier in die kompartment het ons 'n sakeman van Ghana gehad tot op York-stasie.

VINNIGE TREIN

Die trein wat teen 190 km/h loop, het die afstand tussen Londen en Newcastle waar ek opgeneem moes word, in vier ure afgelê. Die kaartjiesondersoeker wat op Durham oorgeneem het, het gereël vir in rolstoel op die stasie waar ons moes afklim.

Omstreeks halfsewe het ons by die hospitaal aangekom. Nog voor ek in die bed kon kom, was die eerste geneesheer daar om die pasiënt uit Suid-Afrika welkom te heet.

Hospitaalbehandeldng soos dié in Newcastle het ek op my lang toer deur Suid-Afrikaanse hospitale nog nie beleef nie. En was my verbasing groot toe die suster, sy's van Skotland, vir my die spyskaarte vir die week bring om af te merk wat ek op elke afsonderdike dag al wil eet.

“MONKEY PUZZLE”

Daar het die nuuskierigheid van die wêreld se beste neuroloë my soos 'n "monkey-puzzle" laat voel. Op die eerste dag het hulle net kop geskud, maar op dag nommer twee het hulle begin werk en toe kon ek sien waarom die hospitaal as die beste in die wêreld geag word.

Prof. John Walton
Daar was nege dae lank die een internasionale konferensie op die ander en tussenin is die toetse wat die afgelope 12 jaar in die Republiek op my gedoen is, herhaal. In dié kort tydjie was dit byna sieldodend omdat ek geweet het wat wag. Maar ons kon ook nie sloer nie -- die hospiltaalkoste was R29 per dag en elke dag het Perskor se sak geskud!

Prof. John N. Walton, hoof van die mediese faklulteit by die universiteit, was die wêreldkenner wat elke keer die bespreking gelei het. Dis uit sy handboek wat talle neuroloë jaarliks in die Republiek eksamens aflê.

Hy werk sedert 1948 intensief met die verskillende spierprobleme, Die Neurologiese Instituut kry geen bystand van die staat nie en word net op skenkings uitgebou.

KARNUFFEL

Ewenwel, die eerste Woensdag in die hospitaal is sekerlik die pynlikste wat ek nog beleef het. Dis die aand teen sesuur wat twee mans in wit jasse my op 'n trollie laai en in die lang kronkelgange afstoot. Waarheen toe nou het ek gedink, maar liewer nie gevra nie.

Toe hulle 'n kamerdeur aan die agterkant van die hospitaal oopstoot, sien ek die elektrokardiograafmasjien en toe is ek bly dat ek nie geweet het nie, want dan het ek oornag 'n maagseer ontwikkel. Dié toets het ek een keer tevore oorleef, maar nou was ek nie so seker van my saak nie!

Een troos was dat my geneesheer darem altyd teenwoordig was as die ander my gekarnuffel het.

Op die tafel het hulle my neergelê. My hande en voete en die volle lengte van my bene is in lood toegevou. Ek kan net my ooglede roer. Toe het die toetse om die spiersterkte te bepaal, begin. Eers in die gesig toe af met die arm al aan die een kant van die liggaam tot by die groottoon.

NAALDE

Naalde word in elke spier gedruk en dis verbind met die masjien. Dan word elektriese skokke d.m.v. die naald toegedien. Hier bolangs kon alles nog gaan, maar toe vat hulle die pinkie aan die regterhand en 15 sekondes lank loop die stroom deur my. Dit het kompleet gevoel of my hart gaan staan. Dit was só seer, daar was nie eens 'n gedagte aan huil nie. En toe ewe doodluiters gaan die twee maar voort.

My oor was fyn ingestel op wat gaan volg en toe hulle onder by die groottoon kom, besluit hulle om die pinkie nog ‘n keer te skok. Toe hou ek asem op, maar toe die stroom deurgaan, het ek sommer in trane uitgebars.

Maar die toets was noodsaaklik en daarvolgens sou bepaal word watter spier die geskikste vir 'n spierbiopsie sou wees. Die volgends oggend is ek na die "slagplaas". 'n Indiër is die hoofchirurg en 'n Suid- Afrkaanse neurochirurg het hom bygestaan.

Met Afrikaans in my ore het ek "weggeraak".

Dit was omstreeks elfuur en om vyfuur ek weer wakker geword met ‘n arm wat soos ‘n goudstaaf gevoel het. Dood, koud en swaar.

LESINGS

Dit, het hulle my beloof, sou die laaste marteling wees. En dit was so. Net elke dag is lesings oor die toestand gegee.

Die Saterdag besluit die twee Suid-Afrikaanse spesialiste dat hulle vir my die "countryside" gaan wys. Maar die chirurg ry 'n MG-sportmodel en met die beste wil ter wêreld sal drie nie daarin pas nie. Toe word ‘n motor gehuur. Ons is daar weg en het dwarsoor die Britse vasteland gery en 'n draai in Skotland gaan maak.

In Northumberland het ek gesien dat die ou Romeine in die tydperk van hul oorheersing al sentrale verhitting gehad het. Die kasteel is op pilare gebou en in die koue het hulle onder die vloere vuur gemaak. Dan is daar ook die “Roman Wall” wat gebou is deur die Romeine om die Skotte uit Engeland te hou.

Durham-katedraal
Maar die grootste ervaring van alles was die besoek aan die Durham-katedraal. Dit vorm deel van die derde oudste unversiteit in Engeland. Die katedraal wat ook op die kampus is, word vir lesing- en debatsale gebruik.

Dáár het die universlteit ook sy eie polisie. Die studente loop klas in hul togas en dis wat 'n belewenis. Ook die katedraal is nog in volle gebruik en kos die munisipaliteit R10 000 elke maand. Daar is altyd herstelwerk te doen.

BELEWENIS

Dit was met 'n tikkie heimweë oor die ou beskawing dat ek die aand terug is hospitaal toe.

Deur die verpleegsters, die pienk-tannies (hulle sien om na die kos) en die blanke skoonmakers het ek baie van die gemiddelde Brit gesien en geleer. Kan maar net weer sê dis 'n belewenis.

'n Paar dae later nadat die steke uitgehaal is, kon ons terugkom. Die ambulans het ons tot op die lughawe van Newcastle geneem waarvandaan ons met 'n oorvol vliegtuig Heathrow toe is. Toe ons daar aankom, het die ambulans reggestaan om ons na die terminaal te neem waar BEA-verpleegsters my eers in ‘n wagkamer laat rus het.

Die suster het ons albei se paspoorte en kaartjies geneem en gereël dat ons doeane vryspring na die vliegtuig toe. Alles binne 'n paar minute.

Maar toe ek in die Drakensberg sit, voel ek sommer tuis. Amper soos die huis gevoel. Die lang rit van 18 uur wat voorgelê het, het nie saak gemaak nie.

VAKANSIE

Aan Rika. Van K'rant.
Die tuiskoms was groot. 'n Mens kon die aarde soen nadat die vliegtuig op die Lughawe Jan Smuts neergestryk het. Daar is ek weer met blomme van Die Transvaler af verwelkom.

Binne 'n uur nadat ek by die kantoor aangekom het, is verlof gereël. Ek kon 'n maand lank op my ouers se plaas in die Wes-Transvaal gaan vakansie hou.

Ek sê weer: dis net Perskor wat dit vir my kon doen.

Sedert November verlede jaar werk ek al weer en drink nou tablette wat voorgeskryf is ná die bevindings in Newcastle.


Volgens die geneeshere is daar ’n obstruksie in die geleiding van die senuwee-impuls vanaf die rugmurg na die senuwee-eindpunte. Die impuls kom deur, maar net baie swak. Nou verdun die tablette die bloed en daarmee meen die spesialis dat, as die bloedsirkulasie verbeter, daar stelselmatig ook 'n verbetering in die impulsgeleiding sal kom.

Daar is dus weer hoop en baie dankie aan die maatskappy vir die vergunning om nou ten laatse 'n diagnose oor die kwaal te kon kry.