Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.1.13

Ek sal julle nie "drop" nie

JEAN OOSTHUIZEN skryf: My heel eerste redakteur as joernalis by die destydse Hoofstad in Pretoria was PG du Plessis. Toe hy destyds uit die joernalistiek is en weg is by Hoofstad het hy die volgende stuk in Perskorhaan geskryf onder die opskrif  “Ek sal julle nie 'drop’ nie.” Dit sê nogal vir my iets van koerantmense en dit is seker daarom dat ek dit nog al die jare gebêre het. (PG verwoord juis dit wat K’rant aan die gang hou. – Red.)

PG het geskryf:

PG du Plessis


"As jy jou agterstewe uit die redakteurstoel lig, verlaat jy nie net ‘n stoel, ‘n onmoontlike verantwoordelikheid, en jou maandelikse grasie nie. Jy verlaat ‘n spesie.

"Joernaliste en koerantbesture, verspreidingsmense en advertensie-ouens is, net soos die bevolking van die fabriek, subspesies van ‘n spesie wat seker so half beskryfbaar is as die koerant-subspesie van homo sapiens – êrens uit die stam van die primate.

"Maar lig jy daardie agterstewe, dan is dit minstens ‘n ryker agterstewe as die een wat jy aanvanklik met meer idealisme as voorkennis in daardie einste stoel kom neersit het.

"Niemand kan die versamelbak van probleme wees, soveel by besture neul, soveel hande in die lug opgooi, en soveel met ministers en die balju te doen kry, en nie ‘n beter mens wees as hy daar uitkom nie.

"Jy weet meer van dinge ná die tyd, want jy het daagliks gesien hoe die aktuele dinge in die oog van die gemeenskap leef, net om ewe vinnig te verdwyn – dis jou taak om van dié dinge te weet. Jy weet ook meer van ménse: dié wat van hulle goeie naam en hulle publisiteitjie leef; dié wat die openbare lig vrees en dié wat daagliks, sommer êrens voor die noodlot, die geweld, die geheime begeertes van die binnekant, seerkry en seermaak, ondergaan en opstaan, strewe en ontken, sleg is en erken, en so voort. Mettertyd behoort jy tot die subspesie wat dalk té veel kennis het van die donker/ligte aard van die spesie.

"Jy sien hoe joernaliste dit verwerk: sinisme, te veel drank in Vegkop en Die Hoekie, te veel redelose planne vir die wegbreek, te veel maklike oplossings ná vier doppe – so hier en daar gryp een ‘n mistiek, ‘n bygeloof en ‘n geloof aan.

"Die probleem is: jy kry hulle lief, dié goed wat joernaliste heet. Want in hul kennis, hul storie-gejaag, hul verwerking van die dinge wat hulle beleef, sit daar iets baie moois van wat menswees is: die sin van die ”rat race” dood toe.

"En, jy kry ‘n vertroue in hulle. Nie in wat hulle weer gaan aanvang nie, maar iets baie dieper: dis 'boys' dié wat jou, as die werklike ellende kom – soos kanker, skandale, bankrotskap en die ouderdom – nie gaan 'drop' nie.

"Dit is die grootste vertroue wat jy kan hê – om iemand met jou persoonlike magteloosheid, wanneer dit kom, te kan vertrou. Dit glo ek van joernaliste. Dié dat ek lief is vir die spul. Want net hulle oppervlakte is luid, skurf en sinies. Hulle professionele gevoelloosheid is masker. Ek sal ‘n joernalis met my lewe vertrou, maar verdomp nie met more se soberheid nie. Werk dit uit. Dit werk. Want dis ‘n lewenswyse gepuur tot die dinge wat regtig saakmaak.

"Al wat ek vra, so by die afskeid. Laat julle kolomme tog sag wees oor my moontlike mislukking en baie luid, tagtig-punt-luid as daar dalk sukses is.

"Maar oor mý moet julle nie twyfel nie. Ook nie oor my liefde nie -- soos julle my, so sal ek julle nie 'drop' nie. En as ek nie meer verder kan nie, gaan ek julle kom roep om te kom help. Nie die skynheiliges buite in die establishment nie. Julle. En julle kan mý ook maar roep. Want iets van julle dieper lewenswysheid het ek wel opgetel.

"Vir my opvolger het ek raad. Vertrou joernaliste met jou lewe. Maar nie met jou vrou/meisie/dogter of jou geld nie.

"Maar met jou lewe wel!"