Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.1.13

Moue Opgerol, Hol Ons 2013 in

K’rant sal in 2013 sy eerste bestaansjaar vier. Die nuwe jaar is egter reeds gevul met groot vewagtinge van bydraes van oud-Perskoriane wat baie stories uit herinnering se wei aan die vergetelheid sal ontruk. Wat egter ook, en dit is die bonus, vir baie van ons NUUS sal wees.

K’rant is in vele opsigte uniek:


Dit het die hegte band beklemtoon wat daar oor baie jare tussen verskillende geslagte in die wel en wee van joernalis-wees ontstaan het. Sover ons kennis strek, snoer geen ander maatskappy se joernaliste hulself op dié manier saam nie.
Ons spul bittereinders het ook bewys dat mense groter as maatskappye is, dat mense maatskappye oorleef. Perskor is daar nie meer, maar ons doodkry… nooit! Jy kan ons as’t ware met bevrore krismishoenders gooi, maar ons sal dit oorleef.

Die vooruitsigte vir 2013 is inderdaad rooskleurig. Daar is opwindende stof uitgegrawe waaraan ons ons in die nuwe jaar kan vergaap. Hou maar die oë stip op dié ruimte gevestig.

K’rant gaan ook steeds voortbeweeg om sy vleuels nie net na kollegas uit te sprei nie, maar om ook ander brûe te bou en bande te versterk met akademici wat navorsing oor die koerantwese doen.

K’rant word reeds wyer as net deur oud-Perskoriane gelees en ons stygende lesertal is werklik bemoedigend. Dit dui op verdere groei in die jaar wat voorlê.

Daar is ook ander visoene op die horison wat K’rant tans ondersoek. Of dit gaan realiseer, hang in ruime mate - tot op die punt van uitsluitlik - af van die bydraes wat K’rant van oud-Perskoriane ontvang. So, laat die vingers soos vlinders oor daardie sleutelbord se klawers vlieg en laat die bydraes inrol!

Te oordeel na die puik bydraes wat ons in die kort bestek van ‘n paar maande ontvang het en dié wat ons reeds in die “bank” het, glo ons dat die hoop nie sal beskaam nie.

Op hierdie noot dus: ‘n geseënde 2013 aan al ons getroue lesers en by voorbaat sommer aan die nuwe lesers wat reeds die knoppies na www.perskor.blogspot.com druk!