Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.1.13

Op 74 wikkel Willem nog met die nuus

WILLEM KNOETZE, oudjoernalis van Die Vaderland, Die Transvaler en Noord-Transvaler Metro, laat weet dat hy sedert April 1960 in die joernalistiek is en steeds nie moeg vir die beroep is nie.

Hy het destyds twee dae ná die sluipmoordaanval op die destydse eerste minister, dr Hendrik Verwoerd, op die Johannesburgse skouterrein by DV begin. Met die sluiting van die koerant het hy by Die Transvaler ingeval, en met dié se heengaan was hy van die begin tot die einde by die Noord-Transvaler Metro (later net Metro), Perskor se gemeenskapskoerant in Pretoria.

Willem het meestal in die streekkantore gewerk. Eers op Vereeniging in die Vaaldriehoek en toe as verteenwoordiger in Randburg, Roodepoort en Sandton.

Die afgelope 15 jaar is hy ‘n vryskutjoernalis en werk meestal vir die radiostasie Jakaranda FM waar hy misdaadstories insamel.

As lid van die Pretoriase Persklub is Willem in 1997 aangewys as Pretoria se joernalis van die jaar. Drie stories het hom die eer besorg: die gewese verkenningsoldaat, Willem Ratte, se bedrywighede, die besoedeling van die Centurionmeer, en die uiterste waartoe ‘n meisie haar ingespan het om as Mej Suid-Afrika gekroon te word.

Koos Liebenberg
Herman Snyman
Hy het op sy dag saam met perslegendes soos Hermie Hendriks, Jan Hoeksema, Chris Vermaak, Koos Liebenberg, André Verster en Herman Snyman gewerk en baie by hulle geleer.

Willem en sy vrou, Jackie, woon deesdae in Glenstantia, Pretoria. Hulle het ‘n dogter Linda, ‘n opvoedkundige sielkundige op Secunda, en ‘n 17-jarige kleindogter Nicole, wie se kop in ‘n mediese rigting staan.