Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.1.13

Springbok Dirk kon toegewyde Don nie afskud

PIETER KRUGER skryf: Ek wonder of die fotograaf Don Bain nog leef?

Ek was nog op hoër skool op Affies toe ek Don die eerste keer langs Loftus Versfeld se kantlyn sien nael het om Frik du Preez, Mannetjies Roux en Mof Myburg-hulle se beeltenis vir die nageslag te bewaar.

Ek weet nie of die storie heeltemal waar is nie, maar Neil Steyn het Don
aangesê om ’n paar kiekies van die Springbok-skrumskakel Dirk de Vos, wat toe vir Oostelikes gespeel het, in ’n Carltonbeker-wedstryd (wat op ‘n weeksaand gespeel is), te neem.


Dirk de Vos (wit trui) in aksie.
 “‘Close-ups’ Don, ek soek ‘close-ups,’” was Neil se bevele.

Toe Dirkie steelkant om die skrum is, was Don langs hom, met sy flits wat oortyd gewerk het. Dirk het probeer systap, maar hy kon Don nie afskud nie.

Jare daarna, ek dink dit was in 1981 toe Don vryskutwerk vir Perskor in Durban gedoen het, was ek en Essie daar om oor die Computer Sciences-kriekettoernooi verslag te doen.

Die betrokke Saterdagaand ná die dag se spel is ons na Don se woonstel – in Smithstraat – om die rolletjies film af te haal sodat dit vroegoggend per vliegtuig na die Lughawe Jan Smuts versend kon word. Ons het die geleende motor (goedgunste verskaf deur Flip Wilken van Toyota) om die hoek in Weststraat geparkeer, en is na Don se woonstel op die tweede verdieping.

Skielik was daar ’n oorverdowende slag. Ons het abei besef dis ‘n bom*.

Vensters het gebreek en rookwalms het vinnig die lug gevul. Ons het na Don se woonstel laat spaander.

Siende dat hy ’n Durbaniet was, was hy in sy gunsteling-drag geklee, ’n Speedo en plakkies. Hy het blitsvinnig ’n broek en T-hemp aangetrek, sy kamera gegryp en saam met ons die trappe af genael. Halfpad op pad voordeur toe, het Es gevra: “Have you got a film in your camera?”

Don het spierwit geword, omgeswaai en terug verkas woonstel toe.


Ons was eerste op die toneel en Don se kamera het oortyd gewerk. Slegs ‘n paar minute daarna was die polisie op die toneel en Don se “wêreld-scoop” is met een pluk uit sy kamera geruk.

Wrakstukke van die Duiwelspiek-ramp
‘n Paar jaar daarna het ek in Vegkop gehoor dat Don vroeër vir Die Burger (of was dit die Cape Times?) gewerk het. Dit was in 1971 tydens die voorbereiding vir die Republiekfeesvieringe en hy was in De Waalpad op pad iewers heen. Drie Mercurius-vliegtuie van 21-Eskader (Waterkloof) het baie laag oor hom gevlieg en sekondes daarna was daar ‘n groot slag. Die Springbok-vleuel Renier Grobler was een van die 11 offisiere wat tragies omgekom het toe die vliegtuie teen Duiwelspiek vasgevlieg het.

Don was weer eerste op die toneel en sy kamera het oortyd vir sy “wêreld-scoop” gewerk.

Terug op kantoor, het hy uitasem van sy vonds vertel. Die kantoor het gegons en die lyne is warm gebel terwyl Don in in die donkerkamer doenig was.

Duiwelspiek
Iemand het onraad geruik toe Don te lank weggebly het ... en die filmlose Don het nooit weer in Kaapstad gewerk nie. Wat ek wel weet, is dat die Cape Times in sy eerste uitgawe op 27 Mei, 1971 ‘n hemelsgroote afdruk van ‘n kalenderfoto van Duiwelspiek gebruik het.

* In A Long Walk to Freedom word daar op bl. 603 na Umkhonto we Siswe se aanslag verwys en die bomme wat onder meer in 1980/81 in Secunda, Pretoria, ens. geplant is. Dit was die voorloper en “toetsterrein” vir die latere bomme by Koeberg-, Kerkstraat en die Magoo’s Bar in Durban.

Behalwe die bynaam Bommie, wat Essie my dié aand in Durban gegee het, en ‘n dowerige regteroor, het ons geen letsels oorgehou nie ... die Toyota wel!

(Piet Ebersöhn bevestig: Die storie oor Dirk de Vos is waarskynlik waar. Toe ek in die jare tagtig, negentig lid van die Oostelike Rugbyklub was, is die storie daar nog gereeld vertel – net nie so mooi soos wat Pieter dit vertel nie – al was die fotograaf naamloos.)