Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.4.13

Proefleser was oom Kobie van die “Du Plooys van Soetmelksvlei”

Net so tuis voor die mikrofoon as voor die rol- prentkameras. Dit is Pieter Hauptfleisch, 'n man van vele bekwaamhede -- veteraan-akteur, radiopersoonlikheid van faam, verhoogster en ook vertaler, setter en proefleser by die APB in Aucklandpark.

Om in 25 rolprente te speel, talle radioverhale en dramas, elke nou en
dan 'n verhoogstuk, operettes en dan ook fotoverhale, is nie kinderspeletjies nie.

Pieter, lui 'n berig in Hanekraai van Desember 1970, is reeds 20 jaar doenig in die rolprentwese en 24 jaar al is sy diep stem gewild onder radioluisteraars.

Duisende radio-
luisteraars het in die
1950's oor radio's
soos dié na Pieter
Haupfleisch se stem
as oom Kobie
geluister.
Hy het groot naam deur die ganse Suid-Afrika gemaak toe hy die rol van oom Kobie in die bekende
radioverhaal, "Die Du Plooys van Soetmelksvlei", gespeel het.

(Die Du Plooys van Soetmelksvlei was waarslynlik die gewildste Afrikaans radioprogram ooit. Volgens 'n webtuiste van die FAK het 'n opname aan die einde van 1958 getoon dat dit saans gemiddeld 514 000 luisteraars gehad het.

In 'n biografie het die skrywer, Jan Schutte, vertel dat mense hom landwyd gebel het en vertel dat die tye van bidure op talle plekke verskuif moes word, omdat mense nie opgedaag het nie, aangesien dit gebots het met uitsendings van dié vervolgverhaal. -- Red.)

Maar daar het Pieter nie opgehou om sy talente te beoefen nie. In die fliek, "Die Geheim van Nantes", wat so teen die einde van 1969 vrygestel is, het hy die hoofrol vertolk en in "Die Drie Van der Merwes" wat onlangs vir die eerste keer gedraai het, het hy ook 'n groot rol gespeel.

Hierdie is maar twee rolprente waarin hy gespeel het. Daar is nog 23 ander waaronder "Lied in my hart" en "Shangani Patrol".

Van die bekendste radioverhale waarin Pieter gespeel het, is seker "Die Geheim van Nantes" en "Die Banneling". Eersgenoemde is verfilm en ook in 'n fotoverhaal verwerk. Pieter was die enigste persoon wat in al drie - dit is nou die radioverhaal, die fliek en die fotoverhaal - 'n rol vertolk het.

Ook op die toneelfront is Pieter 'n beroemde man. Hy het reeds vir TRUK, NARUK en KRUIK diens gedoen.

Pieter het vyf kinders en ook hier is volop talent. Hugo (23) is 'n student aan die Goudstadse Onderwyskollege, Louis (19) werk op Middelburg, Gustav (15) en Conrad (10) is onderskeidelik in st. 8 en st. 3 en dan is daar die vierjarige klein Lana.

Gustav volg in sy pa se voetspore en het reeds oor die radio die rol van Rudi in "Die Banneling" gespeel.

Klein Lana het ook reeds haar debuut met haar stemmetjie oor die radio gemaak. Sy het in 'n advertensie twee keer "Ekke" moes sê om R5 te verdien. Lana was toe só opgewonde dat sy dit sommer drie keer gesê het. Nou vertel sy ook vir almal dat sy in 'n storie gespeel het.

Pieter se vrou, Marie, is 'n skryfster by uitnemendheid. Dié onderwyseres (sy gee Engels en Latyn by die Hoërskool Vorentoe) het reeds vier radioverhale, twee operettes, 'n paar dosyn kortverhale en heelwat eenbedrywe op haar kerfstof. Op die oomblik is sy ook besig met haar eerste boek.

• Van Hanekraai se kant af sê ons baie geluk met al die prestasies en voorspoed met dit wat nog voorlê. --  Hanekraai, Desember 1970.

(Pieter het, met sy diep stem, ook die rol gespeel van 'n skurk (links op die foto) in die gewilde Staal Burger (Daan Retief)-radiostories en -rolprent. Foto-erkenning: RSG. -- Red.)