Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.5.13

Klein galery van pyn

MARIETJIE VAN ROOYEN skryf soos volg na aanleiding van 'n berig (lees hier) verlede week oor haar betrokkendheid by die eerste Mev Suid-Afrika-wedstryd in Die Vaderland in 1970:

Dat julle nou, meer as veertig jaar later, daardie wedstryd moet opdiep!

Marietjie van Rooyen se jongste toevoeging
tot haar Galery van Vreeslike Flaters.

In my binneste dra ek ’n klein, private Galery van Vreeslike Flaters rond wat ek periodiek besoek wanneer ek miserabel voel en graag nog meer miserabel wil voel. Dan “cringe” ek opnuut ... ure lank tot ’n Volgende Vreeslike Flater die vorige een verplaas. Een van hulle is daardie Mev. Suid-Afrika-Wedstryd.

En dis nie omdat my gewaad so gruwelik deurgeskyn het nie, want daarvan was ek al die jare salig onbewus. (Hoekom het niemand my gesê nie? Wat sou ek daaraan kon gedoen het indien iemand my wel gesê het?)

Om redes wat ek nie kan verstrek nie, aangesien dit ander mense raak, het ek gedink die wedstryd en die partytjie was ’n kolossale flop. Tot my skande moet ek onthul – en ek meen ont-hul – dat ek die oggend na die paartie trane soos reëndruppels op meneer Swellengrebel se mat gestort het terwyl hy my troos. Was sy naam regtig Swellengrebel? Dit lyk so onmoontlik, maar sy mat onthou ek goed, want ek het dit van naderby beskou – reg-tig intiem. Vandag sien ek dat ’n goeie skootjie jeugdige selfimportance my gemotiveer het ...

Stoffel Mynhardt
Ek kan onthou dat Stoffel Mynhardt vir my in ’n stadium gesê het ek moenie “so hard probeer nie; dit is tog maar net ’n skoonheidswedstryd en alles eintlik ’n heel ligsinnige affêre”. Maar ek het voortgegaan om te dink die geleentheid is van monumentale indien nie nasionale belang nie ... en my siel daarin gewerp.

Ten sterkte ontken ek dat ek egter my ooit soos ’n prima donna in die kantoor gedra het, dat ek “toe” was voor 10 vm of vir enigiemand geblaf het. Allermins vir liewe Dougie.

Die deurskynende gewaad kan ek ook nou tot my Galery van Vreeslike Flaters toevoeg en gereeld besoek.

Of weet jy wat ... who cares?