Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.7.13

Marius Jooste, ongenaakbaar – en broos

ANDRIES BOTHA het onlangs met Dot Kruger, jare lange persoonlike assistent van Perskor-grootbaas Marius Jooste gaan gesels. Hy berig: Abrup. Kortgebakerd. Onvoorspelbaar. Kolossaal. Tog soms ongelooflik broos en kwesbaar.

Dis hoe Dot Kruger Marius Jooste onthou “as ‘n man soos Marius Jooste in 'n paar woorde opgesom kan word”.

Maar Dot het hom sommer met die intrapslag in 1976 toe hy met haar 'n onderhoud gevoer het vir die pos van sy persoonlike assistent deeglik kortgevat.


Eers wou hy by haar weet waarom sy vir Perskor wou werk. “Dis mý mense dié,” het sy geantwoord.

Maar sy’t amper uitgestap toe hy ontwykend was oor die kwessie van of sy aan Perskor se voorsorgfonds mag behoort. Uiteindelik het hy gesê vroue kan nie aan die voorsorgfonds behoort nie.

“Dan kan ek nie op 'n plek werk waar so teen vroue gediskrimineer word nie,” het Dot beslis geantwoord.

Jooste het daarop die personeelhoof ontbied en, siedaar, Dot was die eerste vrou wat lid van Perskor se voorsorgfonds geword het. “En ek het gesorg dat elke nuwe vroulike aanstelling lid van die voorsorgfonds word,” vertel Dot.

Dot Kruger
Marius Jooste
Dot was nie die soort persoonlike assistant wat vir die base tee gemaak het nie. Jooste het sy eie teeman gehad. En sy eie kok.

Sy eetlokaal, waar daar elke middag saam met - dikwels vername - gaste geëet is, was uiters luuks en net die beste wyne is daar voorgesit. Op 'n dag toe hy saam met Duimpie Opperman geëet het, het Jooste “Juffie” – soos hy Dot altyd genoem het – versoek om vir Opperman wyn te skink.

“Ek glo nie mnr Opperman sal omgee om vir homself wyn te skink nie. Ek skink nie vir mans wyn nie,” was haar kordaat antwoord.

Jooste het har nooit weer gevra om vir enigiemand wyn te skink nie.

Hy het sy eie, unieke manier van werk gehad. “Hy het selde briewe vir my gedikteer. Ek het elke dag die pos oopgemaak en dit netjies in 'n lêer gesit. Op die meeste daarvan het hy eenvoudig vir my geskryf ‘sorg’ en hier en daar 'n antwoord gedikteeer. Hy was nie 'n man van veel woorde nie en ek moes maar die grammatika en sinsbou nagaan, asook die hoflikheidsnuanses invoeg.”

Sy manier van koerantlees was eenvoudig: eers die voorblad, dan die sport en dan smyt hy die koerant regs van hom op die vloer neer. “Ek moes die teemaker, Abednego, dikwels vra om dit op te ruim."

Maar Jooste het 'n “presence” gehad. “Wanneer hy by 'n vertrek ingestap het, het almal geweet hy is daar. En hom raakgesien.

John Vorster
“Hy het niemand ontsien nie. Op 'n goeie dag het hy John Vorster in sy siekbed geskakel en gesê: ‘John, dis hoog tyd dat jy nou uit die bed opstaan en die land regeer.’”

Dot het geglo die groot Marius Jooste verwag van elkeen wat by sy kantoor instap om sy man te staan. Sy het baie groot mans al na aan trane by Jooste se kantoor sien uitstap.

“Wanneer hy iemand na sy kantoor ontbied het, het ek hom of haar maar vooraf probeer voorberei op wat op hulle voorlê.”

Willem de Klerk
Hy was 'n lojale familiemens en dit is moontlik dat sy respek vir oudminister Jan de Klerk, Willem en FW se pa, hom genoop het om Willem later nie net as redakteur van Die Transvaler aan te stel nie, maar ook as adjunk-besturende direkteur, 'n pos waarvoor Willem self nie seker was dat hy die mas sou opkom nie.

Dot het 'n kosbare voorbeeld van Jooste se onvoorspelbaarheid aan die vergetelheid ontruk.

Jooste het Harald Pakendorf dikwels laat verstaan dat hy nie van sy politieke standpunte hou nie. “Hy het my altyd teen politici se woede beskerm. Dit was egter anders wanneer dit by die ou Transvaalse Onderwysdepartement en Perskor se boekhandel gekom het - dus kommersiële belang nie politieke belang nie,” vertel Harald self hieroor.

“Maar selfs hier het ek gevoel dat ek met baie kan wegkom.”

Op 'n dag het Jooste langs Harald kom staan waar hy koerant lees en gevra hoekom hy The Star en nie Die Vaderland lees nie.

“My antwoord, met ‘n uitleg van redes, was dat The Star ‘n beter koerant was. Dis toe dat hy my laat kom het.”

Dot vertel dat Jooste opgestaan en rondgestap asof hy nie teenargumente wou hoor nie. Harald is toe daar uit.

Harald Pakendorf
“Tien minute later ontbied hy Harald weer en vra hom: ‘Het jy broers of susters?’ Jy moet dat hulle almal hier kom werk. Ons het meer mense soos jy nodig.”

Harald het hierop aan K’rant gesê: “Terloops, my broers en susters het nie een vir daardie Perskor gewerk nie, hoewel ek ‘n suster en swaer by Die Transvaler gehad het asook ‘n broer by Voortrekkerpers se uitgewery. Dit was voor die insluiting by Perskor.”

Dot het ook 'n deel van die tragedie van die politiek deurgemaak. Onder die talle politici wat direksielede van Perskor was, was dr Connie Mulder. Sy ondergang was te wyte aan die feit dat hy vir die Parlement gelieg het toe hy ontken het dat staatsgeld gebruik is om The Citizen te finansier.

Hy moes toe ook uit die direksie van Perskor bedank. Dot vertel hoe hy daardie dag uit die raadsaal gestap het en vir haar op 'n Perskor-notaboekie gewys het hoe hy 'n nota aan die destydse Premier, John Vorster, geskryf het om te vra hoe hy moet antwoord op die opposisie se vrae oor die staatsbefondsing van The Citizen.

John Vorster se antwoord? “Sê nee.” In sy eie handskrif.

Connie Mulder
Wat doen 'n politikus in so 'n geval? Moet hy lieg as sy baas so sê? En dan alleen tot 'n val kom, al was die hele kabinet aandadig aan die besluit om The Citizen te befonds - selfs al het van die fondse gekom uit die begroting van die Departement van Verdediging, onder PW Botha, die land se volgende Premier?

Dot sê: “Connie was eenvoudig verslae.”

Waarom het Perskor ondergegaan? Dit was onteenseglik weens die sirkulasieskandaal waar Die Transvaler se sirkulasiesyfers “gekook” is om dit veel hoër te laat lyk as wat dit was. Sy glo vas Nasionale Pers het 'n spioen in Perskor se drukkery gehad wat vasgestel het dat Die Transvaler se sirkulasiesyfers hoër was as die getal koerante wat gedruk word.

Dot glo feitlik almal by Perskor het geweet van die gekookte sirkulasiesyfers, “behalwe teemaker Abednego.”

Ná die dood van Marius Jooste het die agteruitgang van die eens magtige persreus met rasse skrede versnel. Die bestuur was te bang om geld uit te gee om geld te maak. Perskor se filiale het ook een vir een geknak.

Frans Wessels
Toe die sirkulasieskandaal bars, was Jooste 'n verslae mens. Hy moes seer seker daarvan geweet het, maar hy kon nie glo dat Perskor uitgevang is nie. In daardie tyd het die Audit Bureau of Circulation (ABC) Jooste ”seker maklik ses keer per dag geskakel, maar hy het eenvoudig geweier om met hulle te praat. Uiteindelik het hy sirkualsiebestuurder Frans Wessels opdrag gegee om met die ABC te praat.

Jooste se sagte kant het veral na die sirkulasieskandaal na vore gekom. “Hy het oor die verlede begin dink – ‘n sekere teken dat spanning sy tol begin eis het. Hy het diep in gedagte op die rusbank by ontvangs gaan sit en ure lank daar gepeins.

“Juffie, jy weet die lewe is baie eienaardig. Ek sal nooit vergeet toe my ma begrawe is nie. Die kis was in die lykswa en ek het karre hoor kom en gaan. En intussen sterf my ma ... en die lewe gaan aan,” het Jooste gesê.

“Ek glo vir hom was dit 'n parodie op sy eie lewe.”

• Dot, vandag nog 'n aantreklike, vietse dame wat altyd onberispelik geklee is en mense met grasie onthaal, het Perskor in 1993 verlaat om bestuurder van Marie Claire te word. Sy het einde ’99 afgetree. Ná haar man, Sam, se dood vanjaar het sy besluit om hul spogwoonplek te verkoop en in Darrenwoord-tehuis in Randburg te gaan woon.

• K’rant se mense wens jou alle voorspoed toe, Dot. En baie wenhande in jou weeklikse spel brug! Jy verdien elke stukkie geluk wat op jou pad kom.