Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.1.14

15 Toetsfoto's uit die Baai vir vroeë Dagbreek

K'rant al 'n paar stories geplaas oor hoe joernaliste in die vorige eeu sonder vandag se tegnologie hul werk moes doen.

Hierdie storie vertel van 'n "eerste" met koerantfoto's in 1970. RAYMOND CRAGG (links), groephooffotograaf  van die APB, het 'n mobiele donkerkamer in 'n omgeboude Volkswagen-kombi beman.

Sommer met die wegspringslag was dié donkerkamer 'n sukses. Die aankoop van die voertuig het ook meegebring dat die fotograwe van 'n hele handvol kopsorge ontslae geraak het.

September 1970
Raymond vertel dat die donkerkamer die APB oor die R3 000 uit die sak gejaag het. Die Volkswagen-kombi het sowat R1 800 gekos, terwyl die toerusting en boukoste van die eintlike donkerkamer agter in die kombi by die R1 500 beloop het.

Raymond Cragg in die mobiele donkerkamer.
Die donkerkamer is spesiaal gebou deur mense wat hulle op dié soort werk toelê, maar mnr. Cragg het self die beplanning gedoen. Hy het verduidelik dat die syfer van R1 500 nie die koste van die landlynmasjien en die vergroter insluit nie.

Die mobiele donkerkamer lyk nes 'n gewone donkerkamer, behalwe dat 'n mens nie binne-in regop kan staan nie. Dié probleem is toe deur 'n stoeltjie met wieletjies oorbrug en pleks van loop, ry jy nou heen en weer.

Die mobiele donkerkamer het sy eie kragopwekker en binne-in is daar onder meer ook plek vir die landlynmasjien en 'n vergroter. Cragg vertel dat hy lanklaas 'n donkerkamer teëgekom het wat so ligdig is as hierdie een. In dieselfde asem het hy bygevoeg dat daar niks met die ventilasie skort nie.

Al wat nodig is om die mobiele donkerkamer in werking te stel, is 'n huis met elektriese krag en 'n telefoon. As krag nie beskikbaar is nie, word die kragopwekker ingespan, maar 'n telefoon is nodig vir die landlynmasjien.

Dick Prestwich
Die mobiele donkerkamer is die eerste keer met die derde toetswedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks in Port Elizabeth gebruik. Cragg en Dick Prestwich, Dagbreek en Landstem se hooffotograaf, is hier weg en hoewel alles vlot verloop het, het hulle een groot klagte: die kombi se sitplekke is te hard. (Die toets was op 29 Augustus 1970 gespeel. Die Springbokke het 14 - 3 gewen. -- Red.)

Hulle het die kombi by 'n huis so 'n stuk of 150 tree van die Boet Erasmus-stadion se hek af geparkeer.

Die huis se krag en telefoon is deur middel van spesiale proppe aan die buitekant van die kombi, aan die donkerkamer verbind en toe is daar laat waai. Die fotograwe het so met die vertoop van die wedstryd hul films by 'n spesiale donkerkamerposbussie kom ingooi. Cragg het die ontwikkeling gedoen, afdrukke gemaak en die foto's Johannesburg toe gelandlyn.


Teen vyfuur daardie Saterdagmiddag het Dagbreek en Landstem vir hul eerste uitgawe 15 foto's gehad waaruit gekies kon word. Na verneem word is dit die eerste keer in die geskiedenis dat so iets gebeur - dit is nou met betrekking tot gebeurtenisse wat honderde myle van die Pers af plaasvind.

Die Iandlynmasjien wat in die mobiele donkerkamer gebruik word, is een van die twee wat elke dag daar op die derde verdieping in Aucklandpark so 'n lawaai opskop. Die vergroter is 'n tasvergroter wat volgens Cragg heeltemal doeltreffend werk. -- Hanekraai, September 1970.