Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.1.14

Moenie Chris en Nic vergeet nie

GERT BASSON skryf: Ek merk op dat K'rant nie die name van veterane Chris Vermaak en Nic Hefer, onder VERGEET NIE het nie.

Kyk, Chris Vermaak was sekerlik een van die knapste misdaadverslaggewers wat Die Vaderland nog gehad het.

Hy was die skrywer van oa Manskap Nr 7801. Dit is die verhaal van
baasspeurder (hoofkonstabel/adjudant-offisier) WJ Herbst. Uit sy pen het ook verskyn: Loon van die Sonde, wat 'n paar opspraakwekkende sake dek.

Chris Vermaak
Sy Bram Fischer – The Man with Two Faces, het desjare heelwat opspraak verwek en dekking gekry. En soos sy ander werk, is dit steeds 'n baie interessante en leesbare boek.

As ek reg onthou, was Chris ook 'n ruk verbonde aan die SAUK en het berigte uit die destydse Rhodesië deurgestuur. Ek meen hy het ook 'n draai by The Star gemaak en was heel aan die begin van sy loopbaan verbonde aan Sapa. Ek is nie seker presies wanneer hy oorlede is nie.

Hy en sy vrou het op 'n plaas op Hertzogville by 'n seun gebly.


Nic Hefer
Dan Nic Hefer wat sy spore by Die Transvaler - nog destyds in Braamfontein - getrap het, het ook bekendheid verwerf toe hy en medeverslaggewer, Boer Putter, daar in die jare vyftig oor land deur Afrika gestap het Europa toe. Onderweg het hy selfs “ingestaan” vir die bekende John Wayne toe hulle iewers in Afrika 'n film geskiet het.

In die sestigs het hy senior uitgewer by Voortrekkerpers geword en is later saam oor Doornfontein toe, toe Perskor gestig is. In Augustus 1972 is hy as hoofsub van Oggendblad aangestel.  Nic het later bedank en gaan boer. Ek is ongelukkig nie seker oor sy sterfdatum nie. Hy was getroud met medeverslaggewer Eva Pakendorf, suster van die bekende Harald Pakendorf.

Dalk moet K’rant ook spoor loop na Boer Putter. Hy het 'n seun gehad met dieselfde naam.