Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.1.14

Scoop wat toe nie was

CHARL THOM skryf: As die ander ouens so spog met hulle scoops laat dit my nogal minderwaardig voel. Myne was maar bitter min gesaai en party mense sou dit dalk nie eers as sulks erken het nie.

Maar eendag by Die Vaderland het ek gedink my groot dag het aangebreek. Dit was in die tyd van die sogenaamde Inligtingskandaal en almal het gewag vir en bespiegel oor die Kommissie van Ondersoek, die Erasmus-Kommissie na dié
aangeleentheid, se bevindings.

John Vorster
Connie Mulder
Die politieke loopbane van dr Connie Mulder, Minister van Inligting en Transvaalse leier van die NP, was op die spel. Hy is toe ook genoem as 'n sterk kandidaat om John Vorster mettertyd as Eerste Minister op te volg.

Daar was selfs sterk sprake dat Vorster se posisie in die gedrang sou kom as die Kommissie sou bevind dat hy van alles geweet het, onder meer dat staatsgeld vir die stigting van die koerant The Citizen gebruik sou gewees het. Beide Mulder en Vorster het enige kennis daarvan ontken.

Die Kommissie reik toe op 'n dag 'n verklaring uit dat die verslag gereed lê by die Staatsdrukker en vrygestel sou word vir twee dae later se oggendkoerante.

Dirk Richard
Toe beland daar die middag tevore, nadat Die Vaderland se finale uitgawe gesak het, 'n lywige posstuk, aan my geadresseer, op my lessenaar. Toe ek dit oopmaak, moes ek twee of drie keer kyk om my eie oë te glo. Want daar voor my is toe die verslag sonder enige teken van 'n embargo.

Ek besluit toe daar en dan my koerant gaan die een wees wat die storie die volgende dag sou breek. Subtiele navrae by kontakte het my oortuig dat geen ander koerant dit in die hande gekry het nie. Ek noem dit vir redakteur Dirk Richard, baie vertroulik natuurlik, en hy is ewe opgewonde. Hy gee opdrag dat ek en Johan S Liebenberg dadelik aan die werk moet spring en dit verwerk in stories.

Hennie Kotze
Gert Kotze
Hoe hulle daarvan te hore gekom het, weet ek tot vandag toe nie maar laatmiddag stap Gert en Hennie Kotze by my in en eis dat ek die verslag aan hulle moet oorhandig. Hulle was by Marius Jooste en hy het besluit Die Transvaler se stryd met Beeld was belangriker as een scoop vir DV en daar gaan my storie toe Dirk ook ingee.

Ek was bitter, want die verslag was dinamiet. Sowel Mulder as Vorster se loopbane sou later as gevolg daarvan sneuwel.

Later het ek vasgestel dit was 'n ou kontak van my by die Staatsdrukker wat my 'n guns wou bewys. Almal was agter sy bloed ná Die Transvaler se scoop en gepaardhaande ore-aansit van Beeld. Maar ek was bloot stom.