Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.3.16

Perskor-reunie beste in jare

PEET SIMONIS skryf: Die afgelope naweek se Perskor-reunie was een van die beste in jare.Meer as sestig oudkollegas van Perskor het by die Keg and Eagle in Johannesburg die geleentheid bygewoon.

Daar is heerlik saam gekuier en geëet. Hans Lombard, wat eersdaags 90 word en nog op en wakker is, het almal vermaak met sy lekker stories uit sy joernalistieke dae.

Hy het wonderlike materiaal vir ´n boek. Toe iemand voorgestel het dat hy die staaltjies oor sy joernalistieke ervaringe moet boekstaaf, het dit groot byval gevind. (Volgende jaar se reünie is dalk net die plek om die boek bekend te stel, Hans? - Red.)

Hans het internasionale kontakte soos min gehad en baie beroemdes geken. Van hulle was Harold Wilson, later eerste minister van Brittanje, Kwame Nkruma, later president van Ghana en Sam Nujoma, later president van Namibië. Nujoma het met Hans in sy Mini 'n saamrygeleentheid gekry toe Hans destyds in Londen se Fleet Street gewerk het. Hy het steeds die Mini. Dit het hom in die jare sestig 35 pond gekos om die motor na Suid-Afrika te verskeep.

Hans Lombard, die voorsitter van die reüniekomitee, is in April 90. Hy het `n skildery van Dagbreek Trust en sy oud-Perskorkollegas ontvang met die Lloyd-motortjie op waarmee hy toentertyd Moskou toe gery het. Die skildery is deur die bekende spotprenttekenaar Frans Esterhuyse (self `n gewese Perskorhaan) gemaak. `n Berig oor Hans se Moskouse avontuur het `n paar jaar gelede in K’rant verskyn.
Hans het ook vertel dat hy by 'n geleentheid met Nujoma lughawe toe moes jaag sodat hy nie sy vlug verpas nie. Met die aflaaislag het Nujoma aan hom (Hans) gesê dat as hy (Nujoma) eendag president word, hy Hans as sy motorbestuurder sou aanstel.

Toe Nujoma president van Namibië geword het, het Hans n brief aan die president geskryf oor die werksaanbod van destyds. Hans het nooit 'n antwoord gekry nie.

Theuns Eloff, die voorsitter van die Dagbreek 
Trust by Sondag se reünie

Theuns Eloff, voorsitter van Dagbreek Trust, was die hoofspreker en het interessant vertel van wat die Trust doen om Afrikaans en die Afrikanerkultuur te bevorder.

Sy oudPerskor-vriende het gekoer en gekir toe hulle hoor Piet Ebersohn en sy vrou Mariëtte gaan in Griekeland op die eiland Corfu aftree. Hulle het 'n huis daar gekoop. Hulle vertek beteken ook dat die afgelope reünie dalk hul laaste saamkuier in Suid-Afrika was waaroor almal jammer was. Piet se bydrae om die afgelope jare se reünies moontlik te maak was van groot belang en iemand sal sy skoene moet volstaan.

Piet en Mariëtte Ebersohn het by die reunie afskeid geneem. 
Hulle vertrek eersdaaags na die eiland Corfu om daar af te tree. 
Piet het jare lank die Perskorreunie-saamkuiers help reël.
 Dankie vir jou toewyding om ons almal bymekaar te hou, Piet!

Harald Pakendorf aan die woord by die 
Perskorreűnie die afgelope naweek in Johannesburg.

Bienkie Wessels is ernstig siek en kon nie kom nie, maar sy het dié nekdoek gestuur wat wat iewers in die jare vyftig aan al die vroue by die jaarlikse persbal (al die koerante was betrokke) uitgedeel is.
Bienkie Wessels