Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.9.16

Melkkoerant dra vrug

RUDIE VAN RENSBURG, ‘n stigtersredakteur van Bloemnuus skryf in 2013 in Bloemnuus: Dit was ’n sprong in die donker. Ons het nie geweet wat vir ons voorlê nie, nie hoe diep die afgrond is nie en ook nie hoe steil die bult gaan wees om weer bo uit te kom nie. Bloemnuus was die eerste gratis koerant in die Vrystaat -- ’n onbekende en gevaarlike terrein vir drie platsak joernaliste sonder enige sake-ondervinding.

Maar ek, Emile Terblanche en Johan Coertzen het oë toegeknyp, onbevange gespring en gehoop vir die beste – dat daardie sprong die moeite werd was, word vandeesmaand bevestig met Bloemnuus se een-en-dertigste verjaardag.

27.9.16

Alle paaie lei na Vegkop en die Sans Souci

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Lorraine Viljoen se navraag, Herinneringe gesoek oor ou Perskor-gebou in Doornfontein, het my op 'n kubertoer na ou Perskor-landmerke van Japie Bosch laat klik, en daar beland ek toe in 'n ander wêreld, 'n ander era.

Bo en behalwe die ou Perskor-gebou, sluit die landmerke ook onder meer in: Voortrekkerpers in Braamfontein, Vegkop en die Sans Souci-hotel. (Klik HIER)

Ek kon my oë nie glo toe ek op een van die landmerk-foto's daai einste boom sien waaroor ek in Buks se spook loop steeds (klik HIER) geskryf het nie! Dié boom is in Napierweg naby die Sans Souci, waarvan daar ook 'n foto op die kuberroete is.

23.9.16

Bruce het die orrel gedraai

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Die eerste twee of drie maande gedurende ons opleiding in Hermie Hendriks se joenalisteskool het ek en Maureen Swart in die Sance Souci hotel gewoon.

Saans wanneer die son water trek, het die groot koerantbulle op die hotel toegesak om te ontspan en die dag se stories te bespreek.

Ons het hier die gesoute koerantlui bewonder en gerespekteer hoewel sommige van die snoeshane ons met snydende ironie bejeën het.

22.9.16

Johann was een van ons

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Ons stap op dié stadium van ons lewe reeds in die sinkende lig en wanneer ´n oud kollega sterf word dit donker vir ´n wyle.

Johann Britz was deel van ons groepie van agt wat in die sewentiger jare in Hermie Hendriks se joernalisteskool was.

Ons was ´n klein groepie met groot planne en ambisie. Ons was jonk en het vir alles kans gesien.

Ons was deels baie verskillend, maar het EEN ding gemeen gehad. Ons wou almal skryf!

21.9.16

Nuwe naam vir Perskor-gebou maak nie sin nie

PIET EBERSÖHN skryf: Dis nou seker nie wat die Universiteit van Johannesburg wil verneem nie, maar die belaglike “hernoeming” van die ou Perskorgebou laat my sommer in my pap stik.

As hulle soveel in die geskiedenis van die gebou belanggestel het, sou hulle geweet het dat Willem de Klerk, Dirk Richard en Harald Pakendorf UIT DIE GEBOU UIT voorvegters vir die huidige bedeling was. Dis geen geheim nie en is wyd gepubliseer.

Johann se dood skok

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Ek was baie geskok toe ek vanoggend van Johann Britz se dood lees, en baie hartseer. Een van ons pelle in die joernaliste-skool.

My innige simpatie aan sy familie en vriende.

20.9.16

Johan Britz oorlede

JOHANN BRITZ, oud-Hoofstadter en een van die studente van die APB se joernalisteskool in 1970, is op 6 Augustus 2016 ná ‘n beroerte oorlede, het Anina Roux laat weet.

Johann het by ‘n aantal publikasies gewerk. Hy was onder meer ook stemkunstenaar en radio-omroeper. Berig HIER.

Kwarts-uitgewers het getwiet dat Johann verlede jaar ‘n boek Wie is Gottlieb? uitgegee het en onlangs ook 'n novelle, Blink Twice for Murder.

Frans Aucamp oorlede

GERHARD KLEIJN het laat weet dat Frans Aucamp Saterdag oorlede is. Hy was ‘n deurtrapte Perskor-veteraan en was die laaste redakteur van Metro in Pretoria, wat uit die asse van Die Transvaler opgediep is.

Francois het ‘n koerant op Tzaneen, Die Bulletin, begin en die afgelope aantal jare suksesvol as eienaar/redakteur bedryf.

16.9.16

Herinneringe gesoek oor Perskor-gebou in Doornfontein

LORRAINE VILJOEN skryf: Ek het die berig in K'rant “’n Kubertoer na ou Perskor-landmerke” gelees. (Klik Hier.)

Ek is tans besig om navorsing te doen oor die Perskorgebou in Doornfontein wat 'n paar jaar gelede deur die Universiteit van Johannesburg gekoop is. Die gebou is opgeknap en word nou deur die universiteit gebruik. As deel van 'n “hernoemingsproses” is die gebou vanjaar venoem na Percy Qoboza, voormalige redakteur van The World, en Aggrey Klaaste, voormalige redakteur van Sowetan. Dit staan nou bekend as die Q/K Building.

13.9.16

Slang-passasiers om vrou op haar plek te sit

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Ek wat my lewe lank al 'n doodse vrees vir slange het, het toe sommer twee keer grieselrige ervarings met hulle gehad terwyl ek 'n algemene verslaggeefster by Die Vaderland was.

Oor die een wedervaring het ek reeds geskryf: Slange-hel in die wildtuin (22-5-15) Klik Hier.

Die ander een het gebeur toe ek en 'n fotograaf (ek verswyg liefs sy naam) een middag vir 'n storie in die Johannesburgse middestad was.

Hy was die dag kwaad vir sy vrou. Erg omgekrap!

5.9.16

Terreur dwing Perskor tot koerierdiens

JAPIE BOSCH skryf: Maureen (Heyl) Swart se storie oor Hoe het ons dit oorleef? het my teruggevoer na ‘n storie van Karin Pretorius in K’rant ‘n tyd gelede. Daarin vertel sy van die “beslommernis om films vanuit Rhodesië te versend”. Sy het verduidelik dat dit “die prosedure was om iemand by die Salisbury-lughawe op ‘n vlug na Johannesburg te gaan teiken wat bereid was om jou rolletjies film saam te neem en te oorhandig aan iemand van die koerant wat homself by die Lughawe Jan Smuts sou identifiseer”. LEES HIER.

Dié metode was nie net ‘n beslommernis nie, dit was ‘n onding wat dikwels groot verleentheid by Die Vaderland (en miskien ander Perskor-koerante) se verteenwoordigers in buitekantore veroorsaak het.