Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.9.16

Alle paaie lei na Vegkop en die Sans Souci

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Lorraine Viljoen se navraag, Herinneringe gesoek oor ou Perskor-gebou in Doornfontein, het my op 'n kubertoer na ou Perskor-landmerke van Japie Bosch laat klik, en daar beland ek toe in 'n ander wêreld, 'n ander era.

Bo en behalwe die ou Perskor-gebou, sluit die landmerke ook onder meer in: Voortrekkerpers in Braamfontein, Vegkop en die Sans Souci-hotel. (Klik HIER)

Ek kon my oë nie glo toe ek op een van die landmerk-foto's daai einste boom sien waaroor ek in Buks se spook loop steeds (klik HIER) geskryf het nie! Dié boom is in Napierweg naby die Sans Souci, waarvan daar ook 'n foto op die kuberroete is.

Die Doornfontein-hotel. Vegkop is regs onder.
Uit pure nuuskierigheid en ook om my verroeste ou geheue so 'n bietjie blink te poets, het ek tussen ou K'rant-bydraes na stories oor die landmerke begin snuffel. Een ding het tot 'n ander gelei en op die ou einde kon hoor en sien vergaan, terwyl ek K'rant-stories lees.

Oor die Sans en Vegkop was daar heelwat staaltjies. Van laasgenoemde het ek net mooi niks geweet nie en toe ek die eerste keer die kuberfoto sien, was ek heeltemal verbyster. Hoe op aarde kan dié aaklige, mankoeliekige ou perspienk-en-blou-gebou 'n plek in die galery van landmerke verdien? Só lelik dat ek nie kon wegkyk nie.

En wat het dié gebou met 'n sekere veldslag uit te waai?

Dit was eers toe ek in K'rant die vertellings oor Vegkop lees dat ek my ek-het-dit!-oomblik beleef en besef hoe 'n hengse gewilde en geliefde kuierplek dit was. Watergat van formaat. 'n Yslike groot trekpleiser. (Ek wonder hoeveel veldslae daar by dié Vegkop gewen of verloor is.)

Die Sans Souci-hotel.
Die ander alombekende en -beminde bymekaarkomplek was natuurlik die Sans Souci. Darem heelwat mooier en sagter op die oog as Vegkop. Trouens, op die foto lyk die Sans vir my nogal so 'n bietjie soos 'n ou kasteel. Maar net as ek baie vinnig kyk. (Hokaai, ek was heeltemal nugter toe ek gekyk het!)

Daar's 'n gesegde wat lui: Alle paaie lei na Rome. Maar miskien moet daar ook een wees wat sê: Alle paaie lei na Vegkop en die Sans Souci. Of behoort ek laasgenoemde uitdrukking liewer in die verlede tyd te skryf? Want ek sien die Sans is nou deel van die Milpark-hospitaal se administratiewe kantore (byskrif by foto) en volgens K'rant-bydraes het Vegkop se deure al jare gelede reeds gesluit.

Vir die Sans het ek 'n baie sagte plekkie, want dit was my eerste tuiste toe ek in 1970 Jozi toe getrek het. (Terloops, Sans Souci is Frans vir “kommervry” of meer direk vertaal “sonder sorge”. – Red)

So stupid-jonk nog dat ek nie eens geweet het watergat is 'n ander woord vir kroeg nie. Vir 'n kort rukkie was die Sans vir my 'n holte vir die voet in 'n vreemde, woeste, wonderlike beton-oerwoud. Nog 'n pad wat na die Sans Souci toe gelei het.

Perskor was toe in Empireweg-verlenging en ek onthou nog goed hoe ek en Hanlie (Swanepoel) Vornberg, medestudent by Perskor se joernalisteskool en ook 'n Sans-loseerder, soggens in spitsverkeer te voet oor Empireweg gewoerts het. Vandag sal ek dit nie waag nie. Toegegee, ek is nie meer naastenby so rats en waaghalsig soos doerietyd nie (flippit!), maar nietemin, die verkeer is nou 'n miljoen keer erger as in toeka se dae. En die omgewing lyk ook glad nie meer soos donkiejare gelede nie.

Baie dankie, Japie en K'rant, vir 'n heerlike en interessante reis na die verre verlede. Maar, eisj, nadat ek dit beleef het, het die nostalgie my so erg oorval dat nie eens troos-sjokolade wou help nie!