Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.9.16

Bruce het die orrel gedraai

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Die eerste twee of drie maande gedurende ons opleiding in Hermie Hendriks se joenalisteskool het ek en Maureen Swart in die Sance Souci hotel gewoon.

Saans wanneer die son water trek, het die groot koerantbulle op die hotel toegesak om te ontspan en die dag se stories te bespreek.

Ons het hier die gesoute koerantlui bewonder en gerespekteer hoewel sommige van die snoeshane ons met snydende ironie bejeën het.

Hulle het die Kombi waarin ons agt stuks elke dag gery het, skertsend die "Crèche-kombi" genoem.

"'n Mens kan nie in ‘n skool leer skryf nie," het Bruce Taylor een aand in my rigting opgemerk en bo-oor sy bier gelag.

Die einste Bruce het my op´n dag eenkant toe getrek en gevra of ek bereid was om vir die Dagbreek te skryf. Hy het my ´n lys vrae in die hand gedruk.

Ek moes met minstens ses vooraanstaande families in Johannesburg en Pretoria ´n onderhoud gaan voer.

"Ons wil graag uitvind hoe hierdie hoë lui leef," het Bruce verduidelik.

"Gaan loer ´n bietjie agter die fasade van die herehuise, die duur motors en die pelse."

Ek was koolkopgroen en baie gretig. Ek sou enigiets doen om die punt van my skoen in die deur van professionele beriggewing in te kry.

Ek het begin rondbel en afsprake maak met die deftige geselskap. Dit was nogal 'n belewenis vir ´n jong beginner om in die weelderige sitkamers van die huise in Houghton, Parktown en Waterkloof te sit en koffie drink.

Nadat al die inligting ingesamel was, het ek dit trots by Dagbreek se redaksie gaan aflewer en gewag op die opdrag om met die skryfwerk te begin.

Tot my verbasing was die berig reeds die volgende Sondag onder my naam in die koerant. Sonder dat ek ´n jota of ´n tittel van die storie geskryf het!


Die opskrif was: Ons "Snob-vroue" Gaan elke Sondag Kerk toe.

Ek was behoorlik uit die veld geslaan.

Die styl van die Sondagkoerant- verslaggewing was volkome anders as dié van die dagblad of die vrouetydskrif waaraan ek gewoond was. Dit was nie my vaarwater nie.

Van die betrokke dames het my die Maandagoggend vroeg gebel. Hulle was ontstoke. Ek het gepoog om my so heelhuids moontlik uit die voorval te wring.

Bruce het die klomp behoorlik met ´n lang veer onder die neus gekielie en ek was die een wat vir die nat nies moes koes!

Vandag kan ek daaroor lag.

Bruce het die orrel gedraai en ek was die apie op sy skouer

Op 5 Januarie 2002 het Sapa soos volg oor Bruce berig:

Afrikaans journalist Bruce Taylor dies

Bruce Victor Taylor, 65, a retired Vaal Triangle representative of Beeld newspaper, died unexpectedly on Table Mountain on Friday afternoon.

On holiday in Cape Town, Taylor was struck down by a massive heart attack while at viewing point on top of the mountain with a friend.

Taylor retired about three years ago in Vereeniging where he represented his paper.

He started his career at the now-defunct Afrikaans daily Die Transvaler in the early 1960s after completing his studies at the universities of Cape Town and Pretoria and a short stint as a civil servant in Pretoria.

Before joining Beeld, he was employed as a senior journalist at the also defunct Afrikaans afternoon daily Die Vaderland and the Sunday newspaper Dagbreek en Sondagnuus.

Taylor is survived by two sons and three daughters. - Sapa