Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.11.12

Bisarre liefde tussen Jooste en De Klerk


Hoe gebeur dit dat twee mense wat mekaar op 'n bisarre manier liefgehad het – Marius Jooste en Willem de Klerk – mekaar uiteindelik in woede totaal wil vernietig? Dit is die vraag wat in die verhouding tussen persbaas en koerantredakteur voorop staan.

”My sekuriteit en posisie is weg. My status en aansien het ek behou. Ons sal maar sien hoe dinge ontwikkel – ek slinger tussen hoop en pessimisme,” het Willem de Klerk op 29 Augustus 1982 geskryf toe hy finaal uit Perskor en Die Transvaler gestap het.

Marius Jooste
Koos Buitendag
Nege jaar later, in September 1991, skryf De Klerk “'n ongelooflike aggressie (het) my weer beetgepak oor alles wat ek moes meemaak. Jooste het iets in my ontwrig wat nou nog my emosies soos oop senuwees laat lê. Hy het iets in my beskadig wat nooit weer herstel het nie. Ek beleef dit ook nou nog as ek in sy ou kantore kom op die derde vloer om Koos Buitendag te spreek. As ek deur daardie dubbeldeure loop, span my emosies styf, ek kry 'n fladderinggevoel in my maag, 'n opstygende aggressie wat grens aan haat en 'n senuagtige bewerigheid. Wat het hy in my beskadig?”

De Klerk skryf voorts dat sy selfbeeld, gebou van sy studentejare af, as “'n buitengewone suksesman” vernietig is. “Die gevoelens van mislukking, minderwaardigheid, vernedering, verwonde trots, het hy (Jooste) op 'n akute manier in my gereaktiveer. Verder skryf hy Jooste “het my persoonlikheid verander. Ek het hom nie soseer gehaat nie (trouens, ek het hom op 'n bisarre manier liefgehad), maar ek het sy styl gehaat en die Perskorwêreld wat hy geskep het: die vuil gange, toilette, binnepleine en kantore: die verslete armoedige meubels in kantore, in kontras met die ‘common’ luukse van sy kwartiere: die verdwaasde personeel op alle vlakke van Perskor wat in vrees en bewing voor hom kruip en op al sy dwaasheid ja sê – o, ek het hulle verag – die Duimpie Oppermans en Koos Buitendags en letterlik almal in Perskor was so: 'n impotente klomp diensknegte, gestroop van vryheid en manlikheid en persoonlikheid: die chaotiese bestuur deur dekreet, alles struktuurloos, slordig, ad hoc en alles word bepaal deur die Dada se stemming van die dag: die klimaat van agterdog, negativisme en haat wat swaar in daardie gebou gehang het.

“Iets in my het onder hierdie dinge geknak en wat geknak het in my, het nooit deur die jare gesond geword nie...

“Ek is baie trots op myself dat ek openlik teen hom opgestaan het. Ek is die enigste wat hom aangedurf het, en ek sluit sy direksielede hierby in. Hulle was almal neuroties bang vir hom. Ek was ook bang, maar ek het nie daaronder gaan lê nie. Ek het opgestaan geëis, terugbeledig, geveg, bevele geïgnoreer, hom reguit aangepak. Ek het my selfrespek teenoor hom behou, al het ek die stryd teen hom verloor.”

De Klerk het by nabetragting gesê hy dink dikwels hy was te veel op sy agterpote, “te rammetjie-uitnek, te veel my armpies stomp geveg. Ek moes dit ligter, met meer humor en aanvaarding, hanteer het... Ek was te veel van 'n onbeheersde agitator.”

Dis asof De Klerk homself eerlik in die spieël bekyk het toe hy opgemerk het: “Aan die ander kant: sou ek – met my gebrek aan die nodige agtergrond – ooit 'n besigheidsinstelling soos Perskor kon bestuur? Het Jooste nie gesien dat hy my gepromoveer het tot die ‘level of my incompetence’ nie en toe weet hy nie wat om met my te maak nie?

“Onteenseglik. Jooste was baie goed vir my. Ek dink hy het my liefgehad, geniet en bewonder. Ek het ‘n verhouding met hom gehad. Maar hy het opstand teen sy gesag by my geprikkel. Dis 'n afwyking van my – opstand teen gesag – wat in die pa-seun verhouding sterk beslag gekry het. Ek kan nie absolutisme en bevel vat nie en dit was dwarsdeur my lewe so. Jooste se styl van absolutisme en bevel het my styl van opstand teen gesag so geprikkel dat ek my met my styl te pletter geloop het.”

Nadat Willem de Klerk Die Transvaler en Perskor verlaat het, was sy program soos volg:

• Rapport – twee dae per week;
• RAU-professor - 1½ dae per week;
• SAUK-program: Om die waarheid te sê..., waarvan hy die aanbieder was;
• Sakebelange wat misluk het en waardeur De Klerk aansienlike finansiële skade gely het;
• Vryskut-skryfwerk vir SA Forum en andere;
• Boek oor die Afrikaner skryf vir Jonathan Ball;
• Klomp ander dinge wat in die lug hang.

(Volgende week: Willem de Klerk word (weer) genader om die politiek te betree...)