Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.11.12

Hillbrow was Johannesburg se Times Square!

GERT VAN ROOYEN skryf: Toe ek nou die dag Andries Botha se berig oor Hillbrow in K’rant lees nadat hy Johannes Kerkorrel se liedjie gehoor het, het dit my ook byna 40 jaar teruggesit in die “plek van die duiwel” soos my ouers dit genoem het.

Nou ja, ek, André de Kock en Danie Malan (of was dit dalk Joe?) het vir ʼn wyle in die “plek van die duiwel” gewoon, regoor die polisiestasie in Clarendon Heights. Nodeloos om te sê, ons het baie veilig gevoel in satan se lêplek!

Fontana Inn, Hillbrow
Maar, wat ek nooit van Hillbrow sal vergeet nie is Fontana (soos wat wyle Kerkorrel sing). Dié 24-uur winkel, een van baie in die ‘Brow, het baie keer troos verskaf nadat ʼn Sans Souci-besoek terstond kortgeknip is. Dit was daardie (halfgebakte en nogal rouerige) braaihoender en vars “rolls” van Fontana wat tot menige joermalis se redding gekom het. Ek dink die Griek wat daar gewerk het, was Constantinos, wat baie nagte een menige brose mage gevoed het. Dan was daar Exclusive Books, Hillbrow Record Shop, die Chelsea, Cafe Wien en die klein bedelaartjies wat saans op oopgesperde kartondose in die ingange na die winkels gelê en slaap het.

Een van die baie besoeke aan Hillbrow sal ook altyd in my gedagtes bly. ʼn Paar van ons (ek vermoed dit was Willie, Piet Coetzer, Piet Ebersohn, Bushie, Joe en ek) het besluit om een aand die Butterfly Bar in die Harrison Reef Hotel te gaan besoek. Nou ja, daar aangekom het ek die eerste keer in my lewe ʼn “drag queen” gesien! My byna lam geskrik. Die “butterflies” was oral en een van hulle het nogal begin ogies maak vir Bushie, toe besluit ons net daar om maar die pad te vat!

Chelsea Hotel, Hillbrow
Met ʼn ander besoek besluit ek en ʼn paar pelle om op my verjaarsdag ʼn bier by ʼn Duitse klub in Hillbrow te gaan drink. Dit was in Pretoriastraat, en sover ek kan onthou langs die Ambassador Hotel. Jy het met trappe na ʼn kelderverdieping gegaan en daar was die bekende lang houttafels en kelnerinne wat met die groot bierbekers rondloop. Nouja, dit was ʼn groot fout, want sien, die uwe verjaar op dieselfde dag as Hitler – ons het dáár ook nie te lank vertoef nie!

Hillbrow was Johannesburg se Times Square en Piccadilly Circus. Jy kon stoksielalleen enige tyd van die dag of nag daar rondloop en veilig voel, want daar was altyd ʼn magdom mense wat saam met jou daar rondgedrentel het. Vandag is dit, ongelukkig, taboe.

Ek het my hart vir Hillbrow gegee, maar ek weet nie meer vandag nie ...


Binne Highpoint, Hillbrow