Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.11.12

Lewer al 85 jaar diens

BENNIE NEETHLING, afgetrede redakteur van Die Noordelike Stem/The Northern Times, destyds ’n Perskor-publikasie wat op Kroonstad in die Vrystaat uitgegee is, het vir K’rant ’n eksemplaar geleen van die koerant se bylae, Fokus (onder), se spesiale uitgawe wat op 25 Maart 1988 verskyn het om die Stem/Times se 85e verjaardag te herdenk. K’rant gaan twee artikels hieruit plaas: een
wat die koerant se geskiedenis vertel, die ander geskryf deur die legendariese Tant Tienie Serfontein, Neethling se voorganger as redakteur, oor haar herinneringe.

DIE Noordelike Stem dien die gemeenskap van Kroonstad al 85 jaar lank – 85 jaar lank het Kroonstad al ’n eie koerant wat weekliks oor bedrywighede en gebeure in die dorp berig. Dit is ’n voorreg waaroor die bestuurder en personeel van 64 lede baie dankbaar is. Die Noordelike Stem en Kroonstad is onlosmaaklik van mekaar. Die Noordelike Stem is sinoniem met Kroonstad.

Die voorganger was die “Kroonstad Times” wat in Maart 1903 deur korporaal C. A. Strecker gestig is met geld wat hy uit ’n militêre kontrak verdien het. Nie lank na hierdie gebeurtenis nie, het mnr Henry Dyter die destydse “Kroonstad Gazette” uitgegee en in 1916 het hy die “Kroonstad Times” oorgeneem.

Dit is seker nie baie koerante wat kan spog dat sy redakteur die eerste burger van die dorp was nie. Mnr James Strang was ’n redakteur en ook burgemeester. Met die eenwording van die twee koerante het mnr Dyter die dubbelverdieping- gebou aan die bopunt van Crossstraat (vandag Pep Stores) gekoop.

Sy seun, Henry, en dogter, Ethel, en nog ’n seun, Denys, was almal in die een of ander hoedanigheid by die koerant werksaam. Mnr Dyter het ook ’n boekwinkel aangehou wat die skole voorsien het en waar Miss Irene Ford van Park Mansions-woonstelle as die vriendelike dametjie agter die toonbank gewerk en pakke boeke vir die leerlinge van die hoër en twee laer skole opgemaak het.

Die Kroonstad Times is in 1944 deur die OVS Afrikaanse Pers Bpk oorgeneem en die naam is na Die Noordelike Stem/The Northern Times varander.

Die huidige gebou is op 8 Desember 1948 betrek en in Julie 1950 is ’n tweede koerant hier gedruk en uitgegee. Dit was die “Goudveldse Nuus/Goldfields Express”. Hierdie weekblad het tot in Desember 1953 bestaan, toe dit met die Stem/Times geamalgemeer het.

Links:  Aan die stuur in 1988:  van links af is Bennie Neethling (redakteur), Hannes Robb (produksiebestuurder), Dries Steenkamp (bestuurder van Perskor OVS, Kroonstad) Ina Coetsee (advertensiebestuurder) en Hennie Mulder (voorman, koerant-samestellers).

Toe het die koerant, Die Noordelike Stem/Goudveldse Nuus, die Noord- en Noordwestelike Vrystaat bedien en het op Dinsdae en Vrydae verskyn. Nuusdekking is in Afrikaans en Engels aangebied.

Net terloops, die eerste foto van ’n inwoner van Kroonstad wat in die koerant geplaas is, was die van ene mej Kleynhans, wat sekretaresse vir mnr Gerrie van Tonder van die eerste Sanlam-kantoor hier was.

Reeds sedert die oprigting van die eerste pers, is drukwerk van hoogstaande gehalte gelewer. Die werksafdeling het sedert daardie jare uitgebrei en gedurende die tydperk van 1948 tot 1988 drukwerk van klante van sover as Noord-Rhodesië hier op Kroonstad gedoen.

Neethling het ’n volledige stel van die koerant se uitgawes waarvoor hy ’n behoorlike tuiste soek. As iemand hiermee kan help, kan hy by 072/117-7743 gebel word.

Caxton het die drukkery in 1998 gesluit nadat Caxton en Perkor se drukbelange saamgesmelt het.

Volgende week:   Tant Tienie Serfontein vertel.