Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.11.12

Opgeruimde Jaap was een van die beste

THYS HUMAN skryf: Daardie foto wat K’rant van Jaap Swanepoel geplaas het, is sprekend van hoe hy was – altyd opgeruimd en opgewek, altyd met 'n glimlag en 'n grappie.

Kan nie onthou dat ek hom ooit bedruk en beswaard gesien het nie – nie eens as ons perde verloor het nie. Ja, hy het – soos ek – daarvan gehou om af en toe 'n rand of twee op 'n perd te sit, maar ons was nie wilde, onbeteulde dobbelaars nie. Ons het bv. gou agtergekom dat die Engelse spreekwoord "where there's a tip, there's a tap" baie waar is.

At de Beer
Jaap Swanepoel
As joernalis was Jaap sonder twyfel een van die beste. Mense soos At de Beer en Frans du Toit het 'n baie hoë dunk van hom gehad.

Dis baie jare gelede en ek kan nie meer in besonderhede van sy goeie stories onthou nie en mense soos Wessel wat saam met hom op die stories uit was sal dalk beter onthou, maar wat ek wel onthou is dat as daar 'n moeilike storie opgeduik het, was Jaap dikwels die man aan wie die taak toevertrou is – en met reg.