Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.11.12

Troos jou hieraan, Joe!

PIET EBERSÖHN laat weet: Dit lyk my Joe van Buuren en sy mede-naellopers was nie al wat vir David Protter met die Foxstraat-beleg bang was nie.

“Rooi Rus sê hy was vrekbang”, lui die opskrif by ’n berig deur Martin Jansen in Die Vaderland die dag ná die gebeurde.


Martin skryf onder meer: "Oënskynlik vreesloos het hy gisteraand daar in Foxstraat gestaan. Sten onder die blad.

“Kom uit en veg soos ’n man!” het sy stem in die vroeë oggendure gebulder.

Die Rooi Rus. 

Foto: Ongilumbashe – 
where the Bushwar began

"Dit was die 'Rooi Rus' ofte wel kol. T. J. Swanepoel, bevelvoerder van die Radio-tak van Brixton gisteraand toe die terreur in die middestad op sy hewigste was.

Martin Jansen
"Hy was ’n maklike teiken daar waar hy gestaan het. Onderwyl almal skuiling gesoek het, het hy die berserker (in daardie stadium was daar sprake van veel meer) getart.

“Maar ek was lelik bang,” vertel die Rooi Rus (sy alombekende bynaam) vanoggend skuins na 7-uur in sy kantoor.

“Ek was g’n die held nie. Dit was genl. Hendrik van den Berg.”

Ek wou eintlik ‘n ander storie in die Nasionale Biblioteek (die ou Staatsbiblioteek) gaan naslaan toe ek op dié brokkie afkom.

Ek is heilig oortuig daarvan dat DV daardie Maandag-middag berig het dat Swart September-terroriste die Israeli-konsulaat beset. Op die mikrofilm in die biblioteek se besit is ’n enkele uitgawe van DV vir daardie dag – en die hoofberig waarsku dat TV-stelle duurder gaan word!

Iewers het iemand duidelik nagelaat om die latere uitgawes vir veilige bewaring vir die nageslag te besorg.

André de Bruyn
Wyle André de Bruyn het later vertel dat hy hom dié middag in ’n ontruimde kantoor in Foxstraat ingerig het. Die bonus was dat hy ’n gerieflike telefoonverbinding met die kantoor kon handhaaf. Veiligheidshalwe het hy hom onder die lessenaar tuisgemaak, want ’n mens kan in sulke omstandighede nie te versigtig wees nie.

Op ’n stadium het ’n polisieman die kantoor binnegehardloop. “Weet julle al wie’s dit?” wou André weet.

“Swart September-terroriste!” het die geregsdienaar kortaf laat weet terwyl hy die kantoor steeds op die looppas verlaat het, en André kom die stukkie “warm nuus” onmiddelik deurbel – betyds vir die volgende uitgawe se hoofberig.

Paul Els
• Terloops, Paul Els gee ‘n interessante weergawe van hoe die Rooi Rus by die Brixtonse blitspatrollie beland het in sy boek Ongulumbashe – where the Bushwar began.

Swanepoel, toe nog ‘n kaptein, is in 1965 as eerste bevelvoerder van die SA Polisie se anti-terrositse-eenheid aangestel, en het op 26 Augustus 1966 ‘n sleutelrol gespeel in die eerste uitwissing van ‘n Swapo-kamp by Ongulumbashe in die destydse Suidwes-Afrika.

In 1973 het Swanepoel, teen dié tyd ‘n luitenant-kolonel, uit Pretoria opdrag gekry om die spoorlyn noord van Lusaka in Zambië in die lug te skiet. ‘n Helikopter van die SA Lugmag het hom en sy span voor dagbreek gaan aflaai en sou op bystand bly om hulle op te pik as die taak afgehandel is of as sake verkeerd sou loop.

Dit was gou duidelik dat hul teenwoordigheid bekend was en dat hulle omsingel word. Pogings om met die helikopter kontak te maak, was vergeefs.

Net toe hulle meen hulle is verlore, daag die helikopter wel op.

PW Botha
Victoria-waterval
Swanepoel, wat laaste ingeklim het, wou dadelik van die vlieënier weet waarom hy nie op sy pos was nie. Dié beduie hy moet stilbly en agter in die Puma kyk. Daar hurk die destydse minister van verdediging, PW Boha, en sy onmiddellike gevolg, en dit blyk dat hy die helikopter opgekommandeer het vir ‘n pretvlug oor die Victoria-waterval.

Swanepoel, bekend vir sy kort lont en nou boonop gespanne, moeg en gefrustreer, het ontplof. Ná ‘n heftige woordewisseling is hy en Botha in kwaden bloede op Katimo Mulilo uiteen.

Dit was die einde van die Rooi Rus se loopbaan in die Noorde van Suidwes. Hy is kort daarna Brixton toe verplaas.